Nommerpas vir plaaslike behoeftes

Nommerpas vir plaaslike behoeftes

Oct 20th 2021
News
Deur Clifford Roberts | Foto’s Mia Truter

Agrimark St Helenabaai is minder as 10 jaar oud, maar is reeds ‘n leier in die boubedryf, danksy hul uitstekende dienslewering en produkte van goeie kwaliteit.


Die winkel se uitsonderlike gewildheid kan aan hul buitengewone fokus toegeskryf word. Langs die groot verskeidenheid hondekos en doen-dit-self-gereedskap, is die rakke en stoor vol boumateriaal.

Die rede hiervoor is dat St Helenabaai en die omliggende gebied ‘n bloeitydperk beleef wat herinner aan die 1940’s en 50’s toe hierdie visfabrieke in die Tweede Wêreldoorlog geblikte vis aan die troepe van die Geallieerde Magte voorsien het. Vir ʼn ruk was Suid-Afrika se visbedryf die wêreld se sesde-belangrikste en die Weskus die land se grootste uitvoerder van kosprodukte. Dinge het ná die 1960’s weer begin taan, totdat ‘n opbloei in die plaaslike en wêreld-ekonomie in 2000 en daarna weer die kollig op die streek gevestig het.

Enkele visfabrieke word vandag nog hier bedryf, maar eiendoms-ontwikkelaars en kontrakteurs is ook baie bedrywig. En Agrimark St Helenabaai is dié een-stop-winkel wat in hulle behoeftes voorsien. Dit help ook dat die winkel geleë is op die hoofpad wat die streek se dorpe verbind.

Tydens ons besoek ry ons verby sementtrokke en mense in neon-baadjies wat oral opmetings doen. Daar is oral tekens van verandering en uitbreiding in die streek, want al hoe meer mense kom hier in die rustigheid van die Weskus nesskop.

Ons trek by Agrimark se perseel in en let op hoe vol die parkeerarea is. Die uitsig oor die baai waar die son silwer op die branders skyn, is besonders. Die winkel is bedrywig en oral kom en gaan mense met arms vol inkopies.

Dis geen wonder nie, want hierdie 800 m² gebou en sy aangrensende stoor bied 6 800 produklyne aan. Hul topverkopers is sement, deure en deur- en vensterrame, vertel takbestuurder André Frey.

Die winkel het 12 permanente werknemers, ‘n klein en hegte span wat sorg dat klante vinnig gehelp word. Tyd is geld en as ’n navraag flink hanteer word, wen almal.

‘n Geraamde sertifikaat in ‘n gang wat na die kantore op die tweede verdieping lei, wys hoe suksesvol hulle tot dusver was. “Sertifikaat toegeken aan Agrimark St Helenabaai,” verklaar die dokument, “Vir volgehoue uitstekende klantediens”.

Nuwe produkreekse is onlangs bygevoeg om klante ’n groter keuse te bied en ‘n nuwe stoor-area is geskep om die versending van produkte te vergemaklik.

Handelsklerk Markus Snyman se lessenaar is naby die ingang waar klante hom maklik kan nader vir raad. “Markus en Nadia [Bester, administrasie-klerk], is my regterhande,” sê André. “Markus is al sedert hy 16 jaar oud is, by die winkel betrokke en klante trek baie voordeel uit sy uitstekende produkkennis.”

Onder die handelsmerke wat Agrimark St Helenabaai verkoop, is SURECEM PPC-sement, ‘n ekonomiese en vroeë-sterkte produk vir algemene gebruik, wat ideaal vir beton, pleister en bakstene is. Tork Craft, een van die land se gewildste verskaffers van selfdoen-toebehore, Dulux-verwe, Alcolin en Bostik is van die ander bekende handelsname wat aangebied word.

Die verhoudings wat met plaaslike kontrakteurs opgebou is, veral gedurende die grendeltyd, is iets waarop hulle baie trots is. Munisipale goedkeuring vir planne het eers gesloer toe almal aanpassings aan werkswyses moes maak, maar skielik het dinge weer spoed opgetel. Dit is deesdae niks ongewoon vir bouers om spanne by ‘n klomp verskillende projekte te hê nie.

“Sommige bouers besoek die winkel tot ses keer op een dag,” vertel Nadia.

Daar word gesê dat die area op pad is om “‘n tweede Hermanus” te word omdat dit meer gewild raak met vakansiehuise en afgetredenes wat die hoogtes inskiet. Dis hierdie nuwe markte wat verseker dat die winkel regdeur die jaar besig bly, want as die bouers vakansie neem, raak huiseienaars bedrywig met herstel- en opknappingswerk by hul eiendomme.

Buiten die verskaffing van boumateriaal, bied Agrimark St Helenabaai ook die aflewering van materiaal aan, asook ander dienste soos die ontleding van planne en kosteberaming vir bouprojekte.

‘n Verdere voordeel van die winkel is dat dit by ‘n nasionale netwerk van gespesialiseerde winkels met ’n uitgebreide reeks dienste inskakel. Die naaste Agrimark-susterswinkel is op Vredenburg wat net 30 km ver is en daar is ander op Darling en Malmesbury. Indien voorraad van enigiets nodig is, kan dit maklik by een van die hierdie winkels verkry word.

Omdat die winkels op ander dorpe se fokus grotendeels op landbou is, stel dit Agrimark St Helenabaai in staat om die plaaslike produsente te ondersteun. Bestellings vir voorraad word plaaslik ingedien en items word dan deur Vredenburg of ʼn ander tak voorsien. Dit vergemaklik dinge, want die produsent hoef nie agter produkte aan te ry nie en kan hul aandag by hul boerdery bepaal.

Vandag, danksy puik dienslewering en fokus op die plaaslike behoeftes, speel Agrimark St Helenabaai ‘n sleutelrol in die suksesvolle herlewing van hierdie streek.