’n Harde Wêreld Waar Mense die Verskil Maak

’n Harde Wêreld Waar Mense die Verskil Maak

Oct 21st 2021
News
Deur: Danie Keet | Foto’s: Mia Truter

Groblershoop is in die hartjie van die Groen Kalahari en die deurgang na verskeie gewilde bestemmings soos Namibië, die Kalahari, Namakwaland se blommevelde en Gauteng, afhangend vanwaar die reis begin. Die dorp het ‘n noue verbintenis met die Oranjerivier, die lewensaar van die talle boerderyvertakkings wat hier bedryf word – vee, graangewasse, vrugte, neute, wyn- en tafeldruiwe, asook talle kleiner bedrywe. Harde werk in ‘n ewe harde omgewing het die pad na sukses hier geplavei.

Net soos die dorp die middelpunt van vele bedrywe is, is Agrimark Groblershoop die hartklop. Die winkel het 14 personeellede wat almal hard werk om ‘n groot deel van dié streek van broodnodige landbou- en leefstylprodukte te voorsien. En met ‘n span wat soos ‘n groot familie is en wat saam die wa sleep, is sukses ‘n natuurlike uitvloeisel.

SC Bosch is die takbestuurder wat saam met sy regterhande, Chris Schutte, die bemarker, Cone van Eck, die handelsklerk, en Gerda de Witt, die administrasieklerk, elke dag hier skouer aan die wiel sit.

“Omdat die meeste produsente hier besproeiing gebruik, plaas ons groot klem op die verskaffing van produkte wat hulle benodig en sorg ons dat ons in hul behoeftes kan voorsien. Pype, waterpompe, koppelings en ander items wat hulle nodig het om hul besproeiingstelsels aan die gang te hou, maak ’n groot deel van ons voorraad uit,” vertel SC.

Kort agter SC se kantoor, wat oor die winkel uitkyk, is die toegang tot die pakstoor waar bou materiaal geberg word, terwyl die stoor vir kunsmis en area vir groter houtitems naasliggend is. Boumateriaal soos stene, sement, sinkplate, draadversterkings, dakkappe en rame vir deure en vensters is van hul voorste verkopers.

Agrimark is goed geposisioneer vir die verskaffing van kunsmis. Hulle ooreenkomste met twee groot verskaffers, Omnia en Nitrophoska, gee hulle ‘n mededingende voordeel. Om spoedige diens aan produsente te verseker word aflewerings met ‘n 8 ton-vragmotor of ʼ’n bakkie gedoen. Die winkel is die enigste afsetpunt vir kunsmis in die omgewing.

‘n Nuwe rybaan met ses brandstofpompe is onlangs geopen en is duidelik van die N10-nasionale pad af sigbaar en daar is pompe vir vragmotors en ander grootmaatgebruikers aan die kant van die gebou.

In dieselfde gebou as die winkel, is ‘n gerieflike koffiewinkel. “Die voordeel is dat talle besoekers aan die koffiewinkel, Klein Café, gou by ons inloer om iets te kom koop. Dit gebeur dikwels dat mense wat in die omgewing kom vakansie hou of na die Boegoebergdam toe kom, iets wat hulle vergeet het, by ons kom kry. Veral ons kamptoerusting en die visvang-afdeling is baie gewild,” skerts SC.

Chris vertel dat die winkel ook vele produkte het wat op veeboerdery gefokus is. Daar is ‘n wye reeks veemedisyne, aanvullende voedingstowwe, lekblokke en items soos plaatjies waarmee die diere gemerk word. Hierdie afdeling het die afgelope tyd uitgebrei omdat baie produsente deesdae hul vee in die winger-de en pekanneutboorde laat wei. Die winkel bied omtrent alles aan wat veeprodusente benodig, soos ‘n wye reeks van BayaGro se chemiese produkte wat middels vir blaarvoeding en siekte-bekamping insluit.

Agrimark Groblershoop verskaf ook omheiningsmateriaal – van ankerpale, stutpale en draad tot toerusting vir die oplei van wingerde. Die winkelrakke is vol voorraad wat daagliks deur

produsente gebruik word. Daar is ‘n uitgebreide reeks krag-gereedskap, produkte vir loodgietery, kampeer, visvang, besproeiing, tuinbou, werksklere en ook ys- en vrieskaste.

Die verfafdeling is een van die winkel se spogafdelings en bied ‘n groot verskeidenheid verf en ‘n toonbank waar klante spesifieke kleurkombinasies kan aanvra vir hulle om te toets en te laat meng.

Omdat baie van die water wat in die dorp gebruik word uit die Oranjerivier kom, verskaf die winkel ook ‘n reeks unieke watersuiweringsmiddels wat een van hul goeie verkopers is.

“Die droogte van die afgelope paar jaar het baie van die produsente geknou, maar dit weerhou hulle nie daarvan om mekaar te help nie. Ons het in ‘n stadium begin om voer in te samel vir sommige van die produsente en het ‘n oorweldigende reaksie gekry. Onlangs was ons ook betrokke by ‘n projek om die dorp skoon te maak – daar was so baie mense daarby betrokke en dit het die samehorigheid van die gemeenskap net weer bevestig. En op Mandela-dag het ons verf aan die polisie by Wegdraai geskenk sodat hulle die parkie kan opknap.”

Agrimark Groblershoop het gesonde handelsverhoudinge met ander besighede en ondernemings in die omgewing – insluitend die groot Kyto-slagpale, van die voorste produsente wat baanbrekerswerk verrig, en selfs die Boegoebergdam-waterskema. Die pad wat hulle saam met almal in die gemeenskap stap, gee Agrimark Groblershoop die geleentheid om aan die spits te bly, om nuwe en innoverende produkte te verskaf en om uitmuntende diens aan hul klante te bied.

Een ding wat soos ʼ’n paal bo water uitstaan, is dat hierdie gemeenskap vir mekaar omgee. Al moet hulle soms klippe kou, help hulle mekaar om dit te doen.