Agrimark Robertson versterk die hartklop van die Boland se vrugtespens

Agrimark Robertson versterk die hartklop van die Boland se vrugtespens

Mar 1st 2022
News
Deur Danie Keet | Fotografie: Mia Truter

Wanneer ’n mens Agrimark Robertson binnetree, is die eerste indruk wat jy van die winkel kry dat daar baie ruimte is en dat alles goed georganiseerd is. Die manier waarop ’n mens deur die personeel ontvang word, is tipies plattelands: hartlik, vriendelik en behulpsaam. En natuurlik wag Johan Myburgh, die takbestuurder, jou dan ook met ’n groot glimlag in, reg om te help. Hy is al 13 jaar aan die stuur. Saam met sy personeel lewer hulle ’n diens aan die dorp - en die groter boerderygemeenskap – iets wat hulle die spil van hierdie omgewing maak.

Johan vertel dat die meeste klante uit die landboubedryf kom en omdat die boerderybedrywighede so uiteenlopend is, word ’n wye reeks landbou- en verwante produkte in voorraad gehou om in al hierdie behoeftes te voorsien.

Die streek se produsente verbou ’n groot verskeidenheid vrugte. Robertson is veral bekend vir sy pruime en vele ander vrugte – perskes, wyn- en tafeldruiwe, sitrus, appelkose, amandels, kersies en blou-bessies. Baie produsente het hul plase uitgebrei en die aanvanklik kleinerige stukke grond gekonsolideer om dit in groter ekonomiese eenhede te kan bewerk. Verskillende tipes groente, soos botterskorsies en tamaties, word ook nou in die streek geproduseer.

Die landbou-afdeling bied omheiningsmateriaal, besproeiings-toerusting, pakmateriaal en kunsmis aan en aflewerings word daagliks gedoen. Baie produsente het die afgelope paar jaar begin om net-strukture oor hul boorde aan te bring en die voordeel daarvan raak al hoe meer ooglopend. Die nodige elemente vir die strukture word dikwels by die verskaffers verkry via Agrimark, wat dit dan direk by die produsente aflewer. Die winkel het natuurlik voorraad van die pale, drade, ankers en ander benodigdhede.

Boumateriaal is een van Agrimark Robertson se grootste trek-pleisters en daar is ’n afsonderlike stoor agter die winkel daarvoor. Daar word voorsiening gemaak vir groot boukontrakteurs, bouers en selfdoenentoesiaste. Voorraad van sement, sand, stene, venster- en deurrame en ander boumateriaal word aangehou. Enigeen wat bouwerk wil doen, kan al hul benodigdhede by hierdie een-stop-winkel kry. Drie vragmotors van 4-, 5- en 8-ton en ’n 1-ton-bakkie word vir aflewerings gebruik. ’n Bestelling van 30 ton word sommer gou-gou bymekaarsit om by klante af te lewer.

Sommige produsente verpak hul eie vrugte en Agrimark Robertson voorsien ’n groot verskeidenheid pakmateriaal om in produsente se behoeftes te voorsien. ’n Toegewyde span met kennis oor die verskillende produkte op die mark, staan gereed om met raad en ondersteuning bystand te gee.

Die binnekant van die winkel is ’n belewenis. Dis ruim en skep ’n aangename atmosfeer. Die rakke is goed gerangskik en die wye gange tussenin verseker ’n positiewe koopervaring. ʼ’n Mens kan gemaklik in die winkel rondbeweeg om die produkte te bekyk en inkopies te doen. Dis nie net die winkel se grondvlak wat ’n mens dadelik beïndruk nie.

Aan weerskante van die binneruimte is daar ’n tweede vlak met nog produkreekse. Aan die een kant van die gebou vind jy die buitelewe-afdeling wat ’n wye verskeidenheid van alles en nog wat bied – of jy nou ’n tent, ’n kamp-yskas, visstokke, braaitoerusting en gaslampe nodig het, of dalk kampstoele en ‑beddens, dit is alles in voorraad.

Aan die ander kant van die winkel, ook op ’n verhewe vlak, is die klere-afdeling, een van die besigste afdelings van die winkel. Die volledige en uitgebreide Jonsson-klerereeks is een van die topverkopers, maar daar is ook talle ander handelsmerke en oorpakke, skoene en baadjies word te koop aangebied. Klante kan na hartelus hier kom inkopies doen.

“Ons kleinhandel-items het oor die afgelope paar jaar konstant gegroei. Robertson self is steeds aan die uitbrei en stagneer nie. Hier is nog grond beskikbaar en die produsente doen baie uitbreidings aan hul ondernemings. Ons het drie bemarkers wat die landboubedryf deeglik ken en produsente met hul aankope kan bystaan. En met meer as 14 000 items op die vloer, kan ons in die meeste behoeftes van ons klante voorsien wat die landbouprodusente en die dorpenaars insluit.”

Die groot Garden Zone wat sowat vier jaar gelede gevestig is, is baie gewild onder plaaslike inwoners en mense van omliggende dorpe soos McGregor. Behalwe tuingereedskap kan tuinentoesiaste ’n groot verskeidenheid plante, insekdoders en plantmedisyne hier kom koop.

Johan glo sy personeel is een van die belangrikste aspekte van die winkel en hulle almal is daarop gefokus om voortdurend die beste diens te lewer. Agrimark Robertson het ’n aangename atmosfeer wat verseker dat mense gereeld terugkeer om goeie produkte te kom koop en goeie diens te ervaar. Geen wonder daar is personeellede wat al dekades lank hier werk nie. Christopher Fortuin, ’n aankoper, werk al 23 jaar hier en Carel Geldenhuys, in die verfafdeling, al meer as 23 jaar.

“Agrimark Robertson maak ’n verskil in ons klante se lewens. Ons kry dit reg deur onbesproke diens te lewer, pryse kompeterend te hou, en deurgaans te verseker dat ons voorraad sodanig is dat klante met sekerheid hier kan instap en kry wat hulle soek,” verduidelik Johan Agrimark se filosofie.

Al is die winkel eers in 2015 geopen, groei dit uitstekend danksy die lojale ondersteuning van die gemeenskap en dis ook die rede hoekom almal so opgewonde is oor die toekoms.