Agrimark Piketberg - Die Tak met die Regop Mense

Agrimark Piketberg - Die Tak met die Regop Mense

Oct 20th 2021
News
Deur Danie Keet | Foto’s Michel Dei-Cont

Ry ‘n mens die N7 noordwaarts uit Kaapstad, is Piketberg een van die eerste plattelandse dorpe wat jy kry. Geleë in die hartjie van die Wes-Kaapse koringstreek is hierdie historiese dorp met ‘n geskiedenis wat uit 1836 terugdateer nie net bekend vir sy koring nie, maar ook vir ‘n wye verskeidenheid landbouprodukte wat feitlik die hele spektrum dek – vrugte, soos sitrus, appels, pere, wyn- en tafeldruiwe, skape en beeste, aartappels en, meer onlangs, die toenemend gewilde bloubessies.

“Ja, daar word mos met Piketberg gespot as die skuins dorp met die regop mense. Maar hier werk dinge klopdisselboom en ons is ‘n hegte gemeenskap,” sê Cyril du Toit, senior bestuurder van Agrimark Piketberg, wat al sedert 2007 hier aan die stuur van sake is.

“Ek hou daarvan om by die daaglikse bedrywighede van die winkel betrokke te wees – hands on, soos hulle sê. Vir my is dit belangrik om te weet wat hier aangaan, wat die produsente se behoeftes is, en hoe dit met die personeel gaan. Personeel is vir my alles. Ek kan my deel doen, maar sonder hulle is my hande afgekap. Ons sorg dat ons ‘n ekstra myl vir ons klante loop en hul behoeftes vinnig en doeltreffend aanspreek. As daar dalk op ‘n gegewe dag mense afwesig is, spring ons in om mekaar te help om te verseker dat alles vlot verloop.”

Agrimark Piketberg is in 2017 gemoderniseer om beter toegang en vloei van verkeer tussen die winkel en stoor te verseker en vandag pluk hulle die vrugte van daardie groot bouprojek. Die winkel is ‘n toonbeeld van netheid, met ‘n uitleg wat seker maak dat produkte maklik bereik-baar is. Die naasliggende stoor vergemaklik grootmaataankope en met ‘n volledige reeks landbouprodukte, kan produsente die winkel as eenstopdienspunt gebruik.

Boerderybedrywighede in die Piketberg-omgewing is uiteenlopend en daarom maak Agrimark Piketberg voorsiening vir die verskillende boerderyvertakkings. Produsente van wyn- en tafeldruiwe, aartappels, uie, appels, pere, rooibostee, en veeboere doen ook hul aankope hier. Die groot klerereeks en huishoudelike produkte maak dit ‘n gerieflike inkopiesentrum vir almal.

Die winkel is nooit stil nie. As die koringboere klaar geoes het, begin die tafel- en wyndruiwe. Dan kom die steenvrugte, die bloubessies en die ander gewasse. Die uitdaging is om te verseker dat daar dwarsdeur die jaar genoeg voorraad van die regte produkte is om in almal se behoeftes te voorsien.


Agrimark Piketberg bied alles wat produsente en die gemeenskap mag nodig kry – toerusting vir omheining, besproeiing, verf, kunsmis en bouwerk. Produsente wat wil diversifiseer, sal ook hier vind wat hulle benodig, soos pakmateriaal vir bloubessies. Die aanvraag na nette, wat oor boorde gespan word, het ook toegeneem. Laasgenoemde produkreeks het vinnig uitgebrei, want dis nie net die nette wat verskaf moet word nie, maar ook die opleistelsels daarvoor.

Daarby is die winkel egter net so gerieflik vir die inwoners van Piketberg wat kruideniersware of skoonmaakmiddels benodig.

Spesiale produkte vir die avokadopeer-produsente en die groeiende rooibosteebedryf word ook aangehou.

AGRIMARK PACKAGING PIKETBERG

As deel van die handelsmerk se strategie om ʼ’n eenstopervaring te skep, is Pakmark se naam verander na Agrimark Packaging en die Piketberg-tak is in die ideale posisie om ‘n wye reeks verpakkingsmateriaal aan produsente in die streek te lewer. Danksy nuwe gewasse wat aangeplant word, ontstaan behoeftes vir nuwe tipes verpakkingsmateriaal en dit hou Kobie Visser, die bestuurder, en sy span bemarkers en verkoopspersoneel op hul tone. Deur noue kontak met hulle te behou, voorsien Agrimark Packaging Piketberg in produsente se unieke behoeftes deur pasgemaakte pakmateriaal vir hul spesifieke doeleindes te verskaf.

“Pakmateriaalbehoeftes onder ons produsente brei voortdurend uit en, ná oordeelkundige onderhandeling met verskaffers, kan ons bykomende lyne voorsien,” sê Visser.

Die meeste van die verpakkingsmateriaal word vir vrugte vir die plaaslike en uitvoermark gebruik, soos kartonne, palette, verdelers en so meer. Daar is ook heelwat nuwe landboubedrywe wat nuwe tipes pakmateriaal vereis wat ook bygevoeg is, insluitend kartonne vir die blommemark, sowel as spesiale verpakkingsmateriaal vir bloubessies. Dan is daar natuurlik ook sitrus, appels, pere, perskes en pruime wat sorg dat die tak die hele jaar bedrywig is.

Die span is ook hard aan die werk om die nuwe Tego-houers, gemaak van hoëdigtheid-poliëtileen (HDPE) met strukturele integriteit wat weerstand teen impak bied, te bemark. Hierdie grootmaathouers is ideaal vir vrugte soos appels, pere en sitrus en alhoewel hulle net ‘n jaar op die mark is, raak Tego-houers al meer gewild onder produsente en die terugvoer daaroor is goed. Die kratte is spesiaal ontwerp om die vervoer- en berging-skade aan vrugte en ander landbougewasse te beperk en dit dra dus tot winsgewendheid by.

Produsente in die Piketberg-omgewing se produksiesiklusse veroorsaak dat daar nie iets soos ‘n stil seisoen is nie. Vroeg in die jaar kom tafeldruiwe gewoonlik eerste aan die beurt, waarna appels, pere en pruime volg. Die uitvoer van tafeldruiwe was die afgelope paar jaar uitstekend, hoofsaaklik vanweë die wisselkoers en die goeie oeste – wat natuurlik meer pakmateriaal vereis het.

Danksy die uitbreiding van produsente en die verskeidenheid produkte, moet nuwe pakmateriaal voortdurend aangebied word.

Naby is daar byvoorbeeld ‘n produsent wat aartappelskyfies vir ’n groot kettingwinkelgroep produseer waarvoor Agrimark Packaging al die sakkies en ander pakmateriaal verskaf. Pasgemaakte verpakkings-materiaal vir ’n slaghuis op Porterville is ook ontwerp en vorm deel van die vernuwing in pakmateriaal wat voortdurend deur die span beskikbaar gestel word.

Die tak bied ‘n geïntegreerde diens aan produsente. Hulle kennis van die verskillende produksiesiklusse stel hulle in staat om ‘n spesiale voorsieningsplan vir elke produsent se unieke pakprogram uit te werk. Deur by hierdie streng siklusse te hou, verseker Agrimark Packaging Piketberg dat die produsent deurgaans die nodige diens ontvang om ‘n suksesvolle besigheid te bedryf en hul produkte so gou as moontlik in die mark te kry.

Dis ‘n klein span van sewe personeellede, maar hulle spog met gesonde finansiële bestuur, gegrond op gesonde verhoudings en goeie samewerking.

“Ons het al op ‘n Sondag ingespring om ‘n produsent wat meer as 2 miljoen kartonne tafeldruiwe per seisoen pak, te help. Hulle pak in dag- en nagskofte en ons moes materiaal voorsien sodat hulle daardie middag kon voortgaan. Dit is sonder moeite gereël. By ons bestaan daar nie aftye nie – alles gaan oor dienslewering sodat die produsente met ons besigheid wil doen,” vertel Visser. Een van die redes vir Agrimark Packaging Piketberg se sukses, is hul persoonlike verhoudings met produsente, iets wat vir hulle uiters belangrik is.