Agrimark Packaging Buffeljagsrivier

Agrimark Packaging Buffeljagsrivier

Jun 15th 2022
News
Danie Keet

Positief en passievol. Dit is die beste manier om Drikus Steyn, takbestuurder, en Alwyn Botes, bemarker: landbou en handel, van Agrimark Packaging Buffeljagsrivier te beskryf. En met hulle entoesiasme kan ‘n mens berge versit.

“Ons is in die middel van ‘n vooruitstrewende en diverse landbou-gemeenskap met uiters suksesvolle produsente. ‘n Wye verskeidenheid landbouprodukte word in die omgewing geproduseer en ons doen alles in ons vermoë om in hul behoeftes te voorsien,” volgens Drikus.


Die tak is effens buite die dorp naby ‘n hele paar pakstore geleë wat dit vir produsente makliker maak om pakmateriaal aan te skaf – soos kartonhouers, die binneste riffelborde, sakke en groot kartonne vir ingooivrugte. Groot pakstore soos dié van Thornlands, Suiderpak (wat deel van die Suiderland Groep is), Swellenfruit, die Jouberts van Heidelberg en Arisa is ook van hul belangrikste klante.

Alwyn verduidelik dat die tak algaande ’n groter rol in die gemeenskap en ook onder produsente begin speel.


“Ons het ’n jaar of wat gelede begin om die fokus van die winkel effens te verskuif en ons hou nou ‘n groter verskeidenheid landbou produkte aan. Werkswyses en -stelsels is opgeskerp sodat ons op belangrike aspekte kan fokus. Ek is nou maar eers die afgelope jaar die bemarker hier, maar ons het reeds aan die gemeenskap bewys dat hier- die afsetpunt van landbouprodukte en algemene verbruikersprodukte die regte plek is om inkopies te kom doen, nie nét die pakmateriaal waarvoor die winkel aanvanklik bekend geraak het nie. Dit geld ook vir die inwoners van Buffeljagsrivier en omstreke en so het die winkel die rol van ‘n volwaardige verskaffer vir die hele gemeenskap begin speel.”

Of jy nou ’n boer is, of een gaan word, of wens jy was een, op die platteland woon of in die stad, Agrimark is hier vir jou, jou familie en jou vriende – selfs jou viervoet-vriende.


Veral in die bou-afdeling is daar tans groot uitbreiding aan die gang danksy baie bouprojekte in die omgewing. Aflewerings word in plekke sover as Suurbraak gemaak. Volgens Drikus is die ontwikkelings in Suurbraak ‘n groot pluspunt. “Baie stedelinge uit Kaapstad en Gauteng kom soek na rustigheid en ‘n nuwe leefstyl. Ons staan gereed met alles wat hulle vir die bouproses nodig het – van sand, stene en sement tot dakkappe, deur- en vensterrame en al die ander items wat nodig is om ’n huis te bou.”

Alwyn, wat lank in die Noord-Kaap op plekke soos Upington, Garies en later op Moorreesburg en Protem diens gedoen het, glo dat sy direkte kontak met produsente die versekering van wedersydse ondersteuning bied.


“Jy moet in die veld by jou produsente wees sodat jy kan verstaan wat hul behoeftes is en hoe flinke en akkurate dienslewering hul besigheid raak. Dit gaan oor rand en sent en ons moet seker maak dat ons gereed is om hulle by te staan,” meen hy.

“Hier is byvoorbeeld vyf melkerye in ons omgewing, daar is pas ‘n nuwe pakstoor voltooi wat eersdaags in gebruik geneem gaan word, hier is produsente wat avokadopere en makadamianeute vestig, ook pruimprodusente en natuurlik is sitrus ook ‘n bedryf wat al hoe meer aan die toeneem is. Die streek ontwikkel vinnig en ons maak seker dat ons byhou deur aan die toenemende aanvraag van nuwe produkreekse te voldoen.”


Volgens Drikus is die lewering van pakmateriaal vir die vrugte-bedryf die groot rede vir Agrimark Packaging se bestaan in die streek en ook vir hulle verskuiwing uit die dorp na die huidige perseel toe. Die afgelope jaar of wat het die behoefte aan ander landbouprodukte egter ook baie toegeneem.
“Ons is nou dié plek vir produsente om hul aankope te kom doen omdat hulle alles op een plek kan koop. En daar is deurentyd nuwe uitbreidings in ons streek, soos die net-strukture wat oral opgerig word. Ons help produsente met die hele proses wat die beplanning, aanbevelings vir oprigters en dan natuurlik die verkryging van al die materiaal vir die projek insluit,” sê hy.

“Gewoonlik is die resultaat van hierdie interaksie dat die produsente vir ander landbouprodukte terugkeer na die winkel. Ons verskaf natuurlik besproeiingsmateriaal, dieremedisyne, kunsmis, pale, draad, water- en voerbakke, grondstowwe vir voermengsels, soos mielies en katoen, boumateriaal en -produkte vir huishoudings. Diesel is deesdae ook een van ons grootste verkopers.”


Die Heidelberg-area brei ook baie uit. Saai- en skaapboere is aan die toeneem in hierdie omgewing wat beteken dat die aanvraag na veeprodukte baie toegeneem het. Volgens Drikus bied dit vir Agrimark ‘n gulde geleentheid omdat hulle so ‘n groot gebied bedien en omdat soveel produsente deurlopend besig is om uit te brei. Dit gee Agrimark die kans om die gemeenskap beter te bedien.

Volgens hom is die hele span by die winkel op dienslewering ingestel en bou hulle saam aan die kosbare verhoudings met die produsente.


“Ons vooruitsigte vir die volgende vyf jaar lyk rooskleurig,” sê Drikus. “Hier is nuwe pakstore aan die ontwikkel, daar is ‘n paar melkerye wat ons nog wil betrek en met goeie dienslewering en ‘n wye reeks landbouprodukte, kan ons goeie groei verwag,” beskryf hy.

“Daar’s ruimte vir uitbreiding in ons besigheid. Ons ondersoek maniere om die geboue te vergroot, die boumateriaalafdeling uit te bou en ons verhouding met inwoners van Swellendam te verstewig. Ons verfafdeling het nou ook sy eie mengsentrum en ons help ‘n groot eiendomsmaatskappy met die opknapping van hul huurhuise, waarvan daar tans ongeveer 400 in die dorp is,” meen hy.


“Agrimark Packaging Buffeljagsrivier is vinnig besig om in ’n eenstop agri-leefstylwinkel vir dorpenaars en produsente te ontwikkel en ons staan gereed vir die toekoms. Ons moet net seker maak dat ons die gepaste voorraad aanhou en as ons voortreflike diens lewer, wag daar groot dinge op ons. Dis ons doel om tot ‘n volwaardige landboutak met ‘n uitgebreide reeks produkte te groei. En as ons iets nie in voor-raad het nie, sal ons dit in die hande kry en aflewer,” sê Drikus vol vertroue.

Swellendam
Thornlands Farm, Buffeljagsrivier
Tel: 028 512 3018
www.agrimark.co.za