Agrimark Packaging Addo
Die nuwe Agrimark Packaging op Addo bied nou ’n oplossing vir produsente in die omgewing se pakmateriaalbehoeftes. Die ligging is ’n groot voordeel vir die pakhuise in die Sondagsriviervallei wat andersins hul verpakkingsmateriaal moet aankoop en oor groot afstande laat vervoer. Die winkel se kundige personeel bied welkome ondersteuning vir die streek wat hoofsaaklik sitrus produseer.
Pakmateriaal vir verskillende variëteite en in verskeie groottes word in die pakstoor op Addo versamel en geberg voordat dit na die pakhuise versprei word.
Julie Williams is aan die stuur van sake, en hy sien ook om na Agrimark Kirkwood, wat sowat 35 km van Addo af is. Deesdae kan dit nogal ’n rukkie neem om die afstand tussen die twee Oos-Kaapse dorpies af te lê, aangesien grootskaalse – en broodnodigepadverbouings algemeen in die omgewing is.
Die Sondagsriviervallei is een van die grootste sitrusstreke in die land en lewer nagenoeg 25% van die land se totale sitrusproduksie. Agrimark Packaging Addo begin ’n kernrol in hierdie streek speel.
Julie is oorspronklik van die Langkloof waar hy vir byna 16 jaar deel van die Agrimark-span was. Hy het sy pad deur die verskillende posvlakke oopgewerk, van handelsklerk tot junior takbestuurder, en hy is die afgelope jaar al die takbestuurder op Kirkwood. Agrimark bied ’n eenstop-bestemming in die gebied, met ’n nabygeleë Agrimark Liquor, asook ’n Expressmark-vulstasie en geriefswinkel reg langsaan die pakmateriaalfasiliteit.
“Ons is nou al ʼ’n bietjie meer as ’n jaar aan die gang en alles is nog taamlik nuut. Ons eerste sitrusseisoen is nou so te sê agter die rug. Ons het baie geleer en ons verstaan nou waar ons ons diens kan verbeter,” vertel Julie. ’n Groot sementblad word tans vir verdere uitbreidings in die nabye toekoms afgerond. As ’n mens na die omvang van hierdie ruimte kyk, kan jy sien dat hier nog baie besigheid gedoen gaan word.
“Groei is vir ons van kardinale belang. Ons fokus op goeie diens en dit bring altyd goeie resultate. Daarmee saam verbreed en versterk ons ons verhoudings met die produsente en verskillende pakhuise. Vir my gaan alles oor die bou en instandhouding van goeie verhoudings oor die langtermyn en dit sal dan sorg dat ons suksesvol gaan wees,” verduidelik Julie sy visie.
Die bedrywighede is tans, aan die einde van die 2024-sitrusseisoen, stillerig en die laaste besendings kartonne, kartonhouerversterkings, bindmateriaal, grootmaathouers en palette staan gereed vir aflewering. Daarná wag voorbereiding en beplanning in samewerking met die produsente vir die komende seisoen om te verseker dat voldoende pakmateriaal beskikbaar is sodra die werksaamhede hervat. Die pakmateriaal word met Agrimark Packaging se vragmotors afgelewer om dinge vir klante makliker te maak.
Julie vertel van die groot ontwikkelings wat beplan word, insluitend ’n omvattende brandstofdepot, terwyl die moontlikheid om gas te verkoop ook ondersoek word. Maar op die oomblik val die kollig direk op die verskaffing van pakmateriaal. Daar is ’n groot behoefte aan pakmateriaal van hoë gehalte, veral omdat die Oos-Kaap bykans 24 700 ha onder sitrusboorde het. Suurlemoene van die hoogste gehalte en die grootste volume word in hierdie omgewing gekweek en uitgevoer.
Nick Burkett werk by Agrimark Packaging waar hy ook die boumateriaalbemarker is. Hy verduidelik dat die laekostebehuisingsbedryf op Addo en omgewing besig is om uit te brei en daarom is groter betrokkenheid by die verskaffing van boumateriaal ook in die toekoms op die kaarte.
Hy het egter lank op Uitenhage gewerk en het deeglike kennis en jarelange ondervinding in die verpakkingsbedryf.
“Die meeste kartonne word in platformaat verskaf en dan in die pakhuise aanmekaargesit vir gebruik. Baie kartonne het reeds die produsent se verkose handelsmerk daarop gedruk. Ons lewer ’n broodnodige diens in die bedryf,” sê Nick.
Gerief binne bereik
Agrimark Liquor is ook bedrywig. Al die vernaamste drankhandelsmerke word te koop aangebied, asook braaigerei soos vuuraanstekers en ys. Al is die winkel taamlik nuut, is dit reeds gewild met ’n bestendige vloei van voetverkeer, selfs in die middel van die dag.
Ook Expressmark ontwikkel as ʼ’n gewilde stilhouplek en al hoe meer mense doen hier aan.
“Dit help baie dat ons soggens reeds om 06:00 oopmaak en tot 20:00 sake doen. Baie klante kom voor of ná werk hier by ons aan om die nodige inkopies vir die huis te doen en mense raak gewoond daaraan dat ons ’n wye verskeidenheid produkte aanhou,” vertel die bestuurder, Sonica Kleynhans.
“Ons fokus op alledaagse produkte, soos koeldrank, skyfies, sjokolade, gevriesde vleis en groente, botter, kaas, melk en ander algemene huishoudelike produkte. In ons hardeware-afdeling het ons selfs waterstewels, pluksakke en snoeiskêre wat die sitrusplukkers gebruik om die stingels van die vrugte af te knip.”
Die deli is ’n belangrike deel van Expressmark, want dis hier waar vars pasteie, hamburgers en toebroodjies in hulle eie kombuis gemaak word om verkoop te word. Daar is ’n verskeidenheid wegneemetes en veral hul gewilde “pig in a blanket” – ’n Russian-worsie met deeg bedek wat diepgebraai word – is baie gewild. ’n Koffiemasjien met Königkoffie is ook ʼ’n groot aftrekpunt.
Met ’n duidelike fokus op gerief, groei, diensuitnemendheid en langtermynverhoudings met produsente, staan Agrimark op Addo gereed om ’n groter rol in die ondersteuning van die Sondagsriviervallei-gemeenskap te speel.