Agrimark Paarl - hier kook dit

Agrimark Paarl - hier kook dit

Mar 28th 2023
Agrimark Services
Deur Danie Keet | Fotografie: Mia Truter

Neffens die Bergrivier in die hartjie van die Paarl, klop die pols van Agrimark Paarl sterk en is die span op en wakker, want hulle het die nuwe jaar met mening aangepak.

Jan van Niekerk, takbestuurder en ná 22 jaar reeds ‘n deurwinterde lid van Agrimark, en sy span van om en by 45 lede, is oorgehaal vir ‘n jaar met nuwe hekkies. Vir hulle is hekkies gemaak om oor te spring en daarvoor staan hulle nie terug nie.

“Een van ons vernaamste take is om te verseker dat hier ‘n suksesvolle besigheid bedryf word deur toe te sien dat voorraadvlakke optimaal gehou word en klante ‘n verskeidenheid produkte en dienste op een perseel kan kry. Ons sentrale verspreidingstelsel is so goed ontwikkel dat rooi vlaggies opgaan sodra items in die winkel min raak sodat ons betyds maatreëls kan tref om seker te maak dat voorraad aangevul word,” vertel Jan vanuit sy koel kantoor in hierdie indrukwekkende tak skuins oorkant die moedermaatskappy, Kaap Agri, se hoofkantoor.

In 2016 is Agrimark Paarl vergroot en die bestaande 11 000 produklyne is tot ‘n enorme 22 000 uitgebrei. Dit het daartoe bygedra dat daar beter in die behoeftes van die omliggende landbouprodusente, sowel as die dorp se inwoners, voorsien kan word.

‘n Kwekery en twee nuwe store is aangebou en die winkel se grootte is verdubbel. Die verskillende afdelings in die winkel en die store word duidelik met groot naamborde aangedui sodat ‘n mens presies weet waar om wat te kry.

Onder die huidige beurtkragtoestande is daar ‘n groot aanvraag vir herlaaibare LED-ligte en toerusting soos kragopwekkers, UPS’e en omskakelaars. Die winkel bied ‘n groot verskeidenheid van hierdie produkte aan sodat hulle in elke klant se spesifieke behoeftes kan voorsien.

Sekuriteitstelsels is ook baie gewild en hulle bied alles aan, van veiligheidsligte tot geëlektrifiseerde omheiningsmateriaal wat deur installeerders gebruik kan word.

Danksy ontwikkelings wat in die Paarl en omgewing toeneem, groei die boumateriaalafdeling ook omdat die winkel boubenodighede verskaf. Die stoor huisves ‘n volledige reeks boumateriaal – van bousand en stene, tot dakkappe, venster- en deurrame, planke en balke van allerhande groottes. Dis voorwaar ‘n eenstopwinkel vir bouers en selfdoen-entoesiaste.

As deel van die uitbreiding, is talle produkreekse verbreed en nuwes ingebring. Die gevolg was dat al hoe meer klante die winkel begin besoek het en dit nou as hul voorkeurwinkel benut.

“Wat veral bemoedigend is, is dat ander besighede op die dorp mense na ons toe stuur as hulle nie die items kan verskaf nie. Om ons wenresep te rugsteun, glo ons in deeglik opgeleide personeel wat vinnige, flinke en vriendelike diens lewer. Ek laat personeel in al die afdelings diens doen om hul vaardighede te vergroot, kennis uit te brei en te versterk, en om te verseker dat elkeen tot sy optimale potensiaal kan ontwikkel,” vertel Jan.

Die bestuurspan bestaan uit ‘n aantal afdelingshoofde: Francois Heydenreich, Etienne Nieuwoudt, Elandrie Coetzer, Sonette le Grange, Sanet Dreyer en Alexis Lyons, die assistent-bestuurder. Twee landboubemarkers, Daan Rossouw en Emile Nieuwoudt, en een boumateriaalbemarker, Ridus Erasmus, voltooi die verkoopspan.

Wilna Pretorius is die generaal in die winkel en as vloer-bestuurder sorg sy dat alles daagliks glad verloop. Sy fokus hoofsaaklik op klantediens, sorg dat die afdelings genoeg voorraad het en dat winkelrakke netjies gepak en gemerk is.

Agrimark Paarl is baie sterk landbougedrewe en bedien ‘n wye verskeidenheid produsente in die omgewing. Tafeldruiwe is een van die area se belangrike landbouvertakkings, saam met die grootste, die wynbedryf. Die streek het ook skaap- en beesboere, hoender- en eierboere, graan- en ‘n verskeidenheid vrugteprodusente – van sitrus tot steenvrugte – wat almal deur die winkel ondersteun word.

Die besproeiingsafdeling verskaf besproeiingsmateriaal vir landbou- én huishoudelike gebruik. Ander afdelings wat goed groei, sluit die een vir pale en omheiningsmateriaal in. 

Die klereafdeling het ‘n groot verskeidenheid moderne klerereekse en is net so gewild. Die borduurdiens wat die tak aanbied, is baie suksesvol en is aangepas om groot hoeveelhede borduurwerk op ‘n slag te hanteer, maar ook om kleiner bestellings vinnig af te handel. Die diens is gewild onder inwoners, landbouers en groot korporatiewe ondernemings wat name, handelsmerke en logo’s op klere soos hemde, pette en baadjies laat borduur.

Die buitelewe-afdeling vorm ‘n belangrike deel van die winkel se produkaanbod en die nuwe Waypoint-reeks, Agrimark se eie produk, is reeds ‘n groot sukses. Daar’s kampstoele en -tafels, opvoubare beddens tot bekers en braairoosters van vlekvrye staal – alles teen baie billike pryse.

Die troeteldierafdeling verskaf medisyne, beddens, kos, halsbande, speelgoed en feitlik enigiets wat viervoetige familielede mag nodig kry.

Dan is daar ook nog die witware soos yskaste en televisie-stelle, loodgietersprodukte vir binne en buite die huis en ‘n basiese kruideniersafdeling.

‘ʼn Ander groeiende bedryf wat goed deur die winkel ondersteun word, is netbedekking. Al die materiaal wat nodig is vir die oprigting van die beskermende nette, word in voorraad gehou. Die nette, ankers, kabels en ander pale word deur die winkel verskaf en word dan deur installeerders en ingenieurs gebruik om die regte struktuur vir die produsente te ontwerp en op te sit.

Neffens Agrimark Paarl is twee van die landboubedryf se belangrikste vennote, alhoewel hulle nie direk onder die winkel se bestuur val nie: Agrimark Packaging en Agrimark Mechanisation. Eersgenoemde verskaf die broodnodige verpakkingsmateriaal aan vrugte- en ander produsente, terwyl die meganisasie-afdeling tegniese en werktuigkundige dienste lewer. Laasgenoemde is ‘n New Holland-agentskap en verkoop dié gesiene handelsmerk se landboutoerusting. Die werkwinkel doen herstelwerk aan New Holland-implemente sowel as ander handelsmerke.

“Na al die swaarkry van die afgelope paar jaar – eers die droogte, toe die COVID-pandemie en nou die drastiese styging in insetkoste en die kragkrisis – het produsente getoon dat hulle dinamiese planne kan maak om te oorleef. Waterbestuur het in ‘n wetenskap ontwikkel, sonkrag word al hoe meer ingespan, vee word doelmatig gevoer en kunsmis word met presisietegnieke toegedien,” noem Jan.

“Uit ons perspektief is dit dus noodsaaklik om by die markbehoeftes aan te pas sodat die regte produkte teen die regte pryse verskaf kan word om hierdie bedryf volhoubaar te help hou. Ons het die beste deel van twee wêrelde deurdat ons ’n stewige kleinhandelafdeling bedryf terwyl die landbousektor steeds ons grootste fokus bly.”

Oosboschstraat, Paarl, 7646 | Tel: 021 860 8101