Agrimark Franschhoek

Agrimark Franschhoek

Nov 18th 2022
Agrimark Services
Danie Keet

Die verskaffing van dienste en produkte aan die landboubedryf, bly ‘n hooffokus.

Met hul ervare personeelkorps en gesonde leierskapstruktuur, bedien Agrimark Franschhoek ‘n wye verskeidenheid landbou-produsente terwyl dié agri-leefstylbestemming ook aan die daaglikse behoeftes van ‘n groot gemeenskap op die dorp voldoen.

“Alhoewel ons kleinhandel-afdeling baie sterk is, fokus ons steeds op ons landbou-produsente deur professionele diens te lewer en deur seker te maak dat ons produkte aanhou wat hulle deurgaans nodig het. Franschhoek is by uitstek ‘n pruim- en wingerdgebied en dit beteken dat ons produkte vir hierdie bedryf moet voorsien,” sê Adrian van Wyk wat vir die afgelope vier jaar die takbestuurder is.

Hy is ‘n man sonder fieterjasies en ‘n mens kom gou agter dat hy sy blik stip op sy taak hou. As ‘n voormalige student van KPUT met opleiding in kantoorbestuur, het sy loopbaan van winkelassistent tot takbestuurder gevorder wat hom ‘n deeglike kennis gegee het van hoe die maatskappy werk.

“Ons is nie net ‘n winkel nie. Ons sien Agrimark Franschhoek as ‘n vennoot wat diens lewer aan besighede in die omgewing en dit sluit landbouprodusente en bouers in. Ons besef dat hul ondernemings nie suksesvol sal wees as ons nie ook ons kant bring nie,” sê hierdie gebore Paarliet, wat ook ‘n deeltydse professionele skopbokser is.

“Getrou aan Agrimark se slagspreuk, werk ons hier daagliks daaraan om ‘n verskil in die gemeenskap te maak en om te verseker dat dinge beter gaan omdat ons hier is,” sê hy.

Die personeel van ongeveer 27 lede is deeglik opgelei. Gereelde gespreksessies word gehou om almal die geleentheid te gee om aan die bestuur van die winkel deel te neem om dit te belyn en om almal - van kassier tot handelsklerk - deel van die besigheid te maak om sodoende klantediens te verbeter.

Die winkel se grootste landbousektore sluit die wingerd- en pruimbedryf in en daarom verskaf die tak opleimateriaal soos teerpale, ankers, draad, spesialisprodukte om boomtakke aan die spandrade te heg, sowel as ‘n wye verskeidenheid besproeiingsprodukte.

“Soos met besproeiingsmateriaal, is beskikbaarheid en goeie pryse die wagwoord vir ons sukses. Daarby sorg ons dat ons vertrouensverhoudings met ons klante opbou en probeer ons deurgaans die ekstra myl loop. Aan die begin van die drastiese prysstygings van brandstof en chemiese middels soos kunsmis, kon ek ‘n behoeftebepaling doen en sodoende die produkte teen uiters bekostigbare tariewe aankoop wat ons weer aan ons produsente beskikbaar gestel het. Mense moet op jou kan vertrou en eerlike besigheid met jou kan doen. Dis iets wat ek en my bemarker, Tertius Hanekom, deeglik besef,” vertel hy.

Die verfafdeling speel ‘n belangrik rol in die winkel en handelsmerke soos Plascon, Dulux en Duram word in voorraad gehou. Michael Klaassen bedryf die afdeling en soos sy kollegas, is hy baie trots en beskermend oor sy werk. Hy het onder meer ‘n rekord van elke klant se aankope en so kan hy herbestellings vinnig en maklik hanteer en seker maak dat presies dieselfde kleure gemeng word. Hy het ook ‘n palet van kleure geverf sodat klante kan sien hoe die kleur lyk as dit geverf is.

Die rakke in Agrimark Franschhoek het genoeg voorraad van alles wat klante benodig. Die swembadafdeling is een van die besigste afdelings in die winkel. Die afdelings vir tuinbou, wat gereedskap, kunsmis en chemiese middels aanhou, die een vir kraggereedskap, wat bore, skuurmasjiene, elektriese sae en ander gereedskap soos skroewedraaiers, moersleutels, hamers en tange bevat, asook die troeteldierafdeling met hondekos en ander bybehore soos halsbande, hondebeddens en medisyne, doen almal goed.

Volgens Adrian vaar hul afdeling vir witgoedere, wat ys- en vrieskaste, televisiestelle, skottelgoedwasmasjiene en huishoudelike elektriese ware soos ketels en strykysters insluit, ook besonder goed.

Nog ‘n suksesvolle deel van die winkel is die kwekery wat veral gewild is onder die dorpenaars. Daar is blomplante, struike, groente- en kruieplantjies.

Direk langs die winkel is ’n vulstasie, Expressmark-geriefswinkel en Agrimark Tyre & Fitment. Grant du Toit, ’n handelsklerk, is vir die bande-afdeling verantwoordelik en hy glo dat klantetevredenheid die sleutel tot sukses is.

“Klante moet met ‘n glimlag hier uitloop, wetend dat hul bandprobleme opgelos is. Ek kom uit die bandebedryf, en saam met my vier spanlede, probeer ons die beste moontlike diens lewer. As ons nie ‘n spesifieke handelsmerk het nie, sal ons dit opspoor. Ons doen wielsporing, omruiling van bande en ons maak pap wiele reg. Ons hou ook ander noodsaaklikhede soos motor- en vragmotorbatterye en ruitveërs aan,” sê Grant.

By Expressmark, ’n geriefswinkel wat 24 uur per dag, elke dag van die week oop is, is Jo Chinoda in beheer van ‘n span van 13 vriendelike spanlede wat klante met ‘n glimlag bedien.

“Ons glo aan flink en vriendelike diens en ons sorg dat ons klante gereeld na ons toe terugkom,” vertel sy. Hulle verkoop peuselkos soos koeldranke, skyfies, lekkers en koffie wat met groot trots deur een van hul baristas gemaak word.

“Klante kan langafstand-buskaartjies by ons koop. Ons het ook ‘n veilige ATM in die winkel en ons verskaf selfoonlugtyd. Die rybaan val onder ons afdeling en daar is die personeel net so vriendelik.”

By Agrimark is die bou-afdeling een van die ander top afdelings wat ondanks moeilike tye tydens die COVID-pandemie nou weer baie goed vaar. ’n Swaarvragmotor laai juis die oggend van ons besoek ‘n vrag sement van 800 sakke af – een van tot drie weeklikse aflewerings.

Maar dis nie net bestellings, verkope en aflewerings wat van Agrimark Franschhoek ‘n sukses maak nie.

“Ek glo in die mense van ons dorp en omgewing en ons probeer iets teruggee deur betrokke te wees by skole en ander liefdadigheidsorganisasies. Die versterking van verhoudings tussen ons en ons klante en die breër gemeenskap is die enigste manier waarop ons volhoubaarheid kan verseker,” meen Adrian.

Agrimark Franschhoek: Reservoirstraat 93, Franschhoek 7690 | Tel: 021 8763057/8