Agrimark Ceres groet die gemeenskap met ope arms

Agrimark Ceres groet die gemeenskap met ope arms

Apr 26th 2022
News
Deur Maryke Roberts | Fotografie: Michel Dei-Cont

Agrimark het nog altyd sy arms wyd oopgegooi vir ʼn diverse groep inkopiegangers: van buitelugentoesiaste tot boerderyspesialiste; vir dié wat nie omgee om hul moue op te rol en die werk te doen nie. Familiebande is die middelpunt waarom alles daar draai – of dit nou jou tweebeen- of vierbeenkinders is wat op die grasperk wil baljaar, of as iemand aan daardie rooiwangappel wil smul. En hierdie winkel se produkreekse dra baie by tot die area se sukses.

Agrimark se personeel het respek vir harde werk, hul glo aan die heilsaamheid van die landbou en werk met ʼn sterk waardesisteem. By min plekke is dít so sigbaar, as juis in die Ceres-tak.

André Dumas is die afgelope 21 jaar ’n takbestuurder by die tak, waarvan hy reeds 19 jaar oorsig hou oor die uitbreidings en bouwerk op Ceres, wat ’n rapsie meer as vyf maande geduur het. Hy vier in Mei vanjaar 33 jaar by die maatskappy.

Hoewel die tak al sedert 1986 deel uitmaak van die Witzenberg-area se geskiedenis, is slegs enkele kleinere uitbreidings en toevoegings – soos ’n addisionele stoor – deur die jare aangebring. Die winkel bied nou ’n algehele nuwe inkopie-ervaring, met verskeie voorraadgroepe wat uitgebrei is. “Ek is baie opgewonde oor die wyer reeks produkte wat ons nou aan klante bied, en kan ek nie net een groep uitlig nie omdat meeste van die groepe uitgebrei het. Die winkel het nou sowat 18 000 items, die rakke is hoër en die hele winkel se voorkoms vertoon ligter met meer ruimte,” meen André.

“Ons het egter baie sterk klem gelê op verfwerk – ons is die enigste Dulux-verfagentskap in die dorp – met ʼn verskeidenheid hardeware en boumateriaal te koop, en die pale-keuse is heelwat groter. Ons het ook besluit om die klere-afdeling uit te brei, en daar is nou ’n lekker verskeidenheid van opsies vir mans en vroue, met duursame en sterk werksklere, maar ook ontspanningsdrag en skoene,” vertel hy.

Die omgewing se inwoners is erg oor hul troeteldiere en die tak se groter Pet Zone voorsien nou in ál jou vierbeenkinders se behoeftes,van ’n bal vir Wagter, ʼn krappaal vir Kiets en baie meer. “Ook die jag-afdeling het ’n groter produkreeks en soos in die verlede, sal die tak se 32-tal personeel – van wie sommige al net so lank hier werk as wat die tak bestaan – klante met enige vrae kan bystaan”. André vertel daar is, heelwat mense wat kenners en spesialiste op hul gebied is soos John Biccard, senior handelsklerk, met 36 jaar diens, en Desmond Jacobs, ’n handelsklerk, met 27 jaar diens. Daar is verskeie ander personeellede, ook met lang diensjare.

Dis egter die koel lug van die nuwe waterverkoelingstelsel wat jou eerste begroet as jy die middaghitte by die ingang agterlaat. Die winkel is ook beter uitgelê en klante kan baie makliker hul weg na ’n produkreeks vind. Daar is ook nou ʼn deurloop van die winkel na die stoor, wat dit ʼn alles-in-een stop maak.

Een van die grootste veranderings aan die buitekant van die tak, is die brandstofpunte wat nou onder dak is, sodat klante nie meer in die son of reën hoef te staan nie.

Wat die tak van ander soortgelyke winkels onderskei, is die uitgebreide reeks Waypoint-buitelugprodukte, Eurotool-gereedskap én dis ook ’n Yara-depot.

Ander afdelings wat uitgebrei is om toerusting en bybehore aan te bied, is die afdelings vir byeboerdery en die swembadafdeling. Danksy die flink bemarker, Riaan Barnard, wat baie nou met produsente saamwerk, bly die tak op hoogte van veranderende markneigings en kan hulle sodoende in nuwe behoeftes voorsien. Hy help met toekomsbeplanning en bestellings om te verseker dat nuwe aanplantings so doeltreffend moontlik kan geskied.

Riaan sê die Witzenberg-streek vereis dat produsente rondom die watertekort moet beplan. “Ons praat nie hier van droogtes nie, eerder watertekort omdat ons op winterreënval staatmaak, wat dan die hele somer deur in alle behoeftes moet voorsien.”

André sê dat ’n groot deel van hul diens aan produsente, is om hulle te help om meer finansieel doeltreffend te wees. “Vele produsente kan nie ten volle meganiseer nie, uit die aard van hul gewasse maar, met beter beplanning, kan hulle meer doeltreffend werk. Die rede vir ons bestaan, is om te verseker dat klante beter af is omdat ons hier is, om hulle werk te vergemaklik.”

Hy is trots op die aanbieding by die Agrimark Liquor wat dieselfde tye as die tak oop is. “Ons het ’n groot reeks wyne, nie net uit ons eie streek nie, maar ook van die voorste en bekendste wynplase, wat dit vir klante maklik maak om al hul wyn onder een dak te koop,” glimlag hy.

“Vir plaaslike restaurante en gastehuise bied ons spesiale pryse en lewer ons ook af, want gerief is deel van ons aanbieding.”

Hy lag as daar van kantoorure gepraat word en sê dat sy span altyd gereed staan. “As ’n trok laataand diesel benodig omdat dit vrugte vervoer, of by die windturbines werk, of die munisipaliteit ’n brand in die berg bestry, word die pompe oopgesluit. Klante het rekeninge en beter brandstofpryse word vooraf vir hul gerief beding.”

Hy sluit af deur te noem dat ‘n mens met soveel jare ondervinding in die bedryf, jou klante se behoeftes beter leer ken en dat jy later weet waar jy kan help beplan of hoe jy kan help om hul ondernemings beter te laat funksioneer. Wat ook al sy tak nie in voorraad het nie, word vinnig van ’n ander tak in die omgewing aangevra.

Spanwerk by Agrimark Ceres maak dat hulle weliswaar een van die dorp se voorste staatmaker-diensverskaffers is.

Agrimark Ceres | Retiefstraat 29 | Tel: 023 312 1094