Verbeter produktiwiteit en volhoubaarheid deur meganisasie

Verbeter produktiwiteit en volhoubaarheid deur meganisasie

Sep 14th 2022
Agrimark Services
Deur Danie Keet | Foto’s: Michel Dei-Cont

Op die Afrika-kontinent skiet meganisasie ver tekort in vergelyking met ander opkomende lande. Na raming is daar slegs sowat 1,3 trekkers per km² in Ruanda, teenoor 43 per km² in Suid-Afrika. Dit is egter heelwat minder as die 126 per km² in Indië en 116 per km² in Brasilië.

Agrimark se meganisasie-afdeling verstaan dat meganiasie nie net oor trekkers en stropers gaan nie. Meganisasie in die landbou beïnvloed die hele waardeketting en daarsonder word produktiwiteit en derhalwe winsgrense nadelig geraak. Met die heersende hoë insetkoste raak presisieboerdery van groter belang en aspekte soos grondvoorbereiding, plant, plaagbeheer, bemesting en oes moet alles optimaal gedoen word om meer volhoubaar te produseer. Meganisasie verbeter ook die gehalte van oeste en grondbestuur.

Agrimark Mechanisation staan produsente by met 12 takke waar ’n verskeidenheid van masjinerie en toerusting verkoop en versien word. Elke tak het ’n uitgebreide onderdele-afdeling, sowel as geriewe om produsente se toerusting te versien en te herstel. Agrimark Mechanisation-takke is ook gemagtigde agente van New Holland-werktuie.

TEGNOLOGIE HELP OM PRODUKSIE TE OPTIMALISEER

Die Walters-groep van Blomfontein in die hartjie van die Swartland digby Malmesbury, is van die jong produsente wat gereeld nuwe tegnologie in hulle besigheid aanwend ten einde produktiwiteit te verbeter.

Fred, die jongste van drie broers, boer saam met Hennie en Dolfie, en pa Louis, wat reeds 80 somers agter die rug het. Die familie boer al geslagte lank en plant tans 1 600 ha waarvan ongeveer 800 ha onder koring en 250 ha onder kanola is.

Behalwe die afhanklikheid van reën, is ʼn ander uitdaging die hellings van sommige kampe waarop geproduseer word. Fred vertel dat hulle nie toerusting kan gebruik wat te groot is nie omdat die masjinerie nie altyd goed teen skuins hellings werk nie.

“Vir ons planters, het ons op die tweery-planters besluit en die New Holland CR-stropers wat ons by Agrimark Mechanisation gekoop het, het autofloat tafels en ‘n kantelsifkas wat hulle ideaal maak vir oes teen die skuinstes,” verduidelik hy.

“Die Everest Kit wat in hierdie stropers ingebou is, beperk vermorsing van gestroopte graan wat natuurlik ons opbrengs beïnvloed.

Hierdie stropers met hul geoutomatiseerde kantelsifkas keer dat te veel graan verlore gaan as hulle teen steil hellings werk. Dit bly egter ’n vreesaanjaende ervaring om so skuins te moet werk – veral as die stropers byna vol is en jy teen ’n helling moet draai.”

Die nuwe generasie stropers het verskeie ingeboude stelsels wat werk vir saaiboere makliker en meer doeltreffend maak. Hieronder tel die Dynamic Feed Roll™ met geïntegreerde beheer oor klippies en ander ongewenste materiaal wat opgetel word, SmartTrax™, IntelliCruise, IntelliSteer® en Opti-Spread™-stelsels wat effektiwiteit verhoog en skoner geoesde graan meebring. Dit is een van die mees gevorderde en produktiewe stroopstelsels ter wêreld.

Om optimale oes te verseker, het die New Holland CR-reeks stropers ook vogmeters ingebou, tesame met outomatiese meting van die opbrengs per hektaar en die monitering van die voggehalte van die graan. Daarby bied die aanboord-GPS-stelsel die geleentheid om opbrengste per hektaar presies te bepaal ten einde opbrengsvariasie in die geoesde kamp te kan weergee.

Dolfie is ewe opgewonde oor sy New Holland-vloot. Buiten die uitstekende prys, is die voertuie maklik om te hanteer. Veral waar die terrein taamlik skuins is, is New Holland se CR8070 ’n produk wat homself verkoop en een wat feitlik onontbeerlik vir hierdie omgewing is.

Buiten gesaaides, verwerk Dolfie ook die afval van ’n nabygeleë hoenderplaas wat hy met munisipale tuinvullis, beesmis, druiwedoppe en strooi meng om ’n gebalanseerde kompos te vervaardig wat hy onder die handelsmerk DNA-kompos bemark. Die mengsel word in lang rye op ’n oop oppervlak gepak en gereeld omgedop. Dit word teen ’n spoed van sowat 300 m per uur gedoen met selfvervaardigde toerusting wat ’n 4 m breedte het en wat deur New Holland se T7040-trekker met ’n creeper-ratkas gesleep word.

Produsente is dit eens dat die kajuit van die New Holland-trekkerreeks bekend is vir die ruimte wat dit bied. Die T6050 is geen uitsondering nie. Die groot glaspanele bied uitstekende uitsig in alle rigtings en maak dit vir die operateur maklik om te sien wat rondom hom aangaan. Instrumentasie en beheerkontroles is ook doelgemaak en goed uitgelê om maklike bestuur te verseker.

Naverkopediens is natuurlik van uiterste belang, vandaar die vele meganisasie-bedryfspunte wat goed versprei is oor Agrimark se bedieningsgebeid.

HUL TOERUSTING LEWER ‘N REUSE BYDRAE TOT PRODUKSIE

Eduard en Pieter Loubser, kliënte van Agrimark Mechanisation, wat tans op twee plase net buite Durbanville vir die Fair Cape-groep boer, is dit eens dat meganisasie onontbeerlik vir die moderne boerderypraktyk is.

Pieter is in beheer van die melkery en daar word daagliks 1 800 koeie op Welgegund en 800 koeie op Driesusters gemelk.

Eduard bestuur die saaiboerdery met ongeveer 800 ha koring, 500 ha kanola, 250 ha lupiene en 1 000 ha hawer. “Die laaste paar jaar het ons nege spilpunte opgerig en lusern gevestig sodat ons kuilvoer as voeding vir die koeie kan produseer,” sê hy.

In albei afdelings van die boerdery is meganisasie van die uiterste belang en beide gebruik New Holland-produkte – wat deur Agrimark Mechanisation voorsien en versien word.

“Die saai-deel van die boerdery is groot en daarom benodig ons hulpmiddele wat in ons behoeftes kan voorsien,” vertel Eduard.

“Ons het twee New Holland-trekkers wat gedurende 2017 aangekoop is en wat nou reeds 10 150 uur gewerk het. Die T6050’s sleep elke dag mengwaens van 20 m³ elk en ’n totaal van 140 t voer per dag. Ondanks die harde werk wat hierdie trekkers daagliks doen, het ons bitter min probleme met hulle en met gereelde instandhouding en versiening soos voorgeskryf, kry ons goeie diens uit hulle. Ons het sover net injectors vervang. Die verhouding tussen die enjin se krag en sy uitset, maak dit ’n ekonomiese werkesel. Daarby is sy instandhoudingskoste baie laag.”

Die New Holland T6050DT 4x4-oopstasie lewer 126 perdekrag oftewel 93,2 kW en die 24x24-dubbelbeheerratkas maak dit meer as geskik vir die take wat op Welgegund gedoen moet word.

Eduard en Pieter is nie sentimenteel oor handelsmerke soos baie ander produsente nie.

“Ons kyk hoofsaaklik na wat die spesifieke toerusting ons kan bied. Ons het sekere vereistes en take wat op die plaas verrig moet word en daarvoor soek ons die beste masjinerie. Dit gaan natuurlik op die lange duur oor die bottom line en hier is New Holland vir ons die antwoord op ons vrae,” verduidelik hy.

“’n Mens moet besef dat jou toerusting ’n reuse bydrae tot jou produksie lewer. Dit is belangrik om ’n balans te kry tussen prys, werkverrigting en betroubaarheid. Ons het gevind dat die New Holland-trekkers wat ons gebruik, uiters betroubaar is. Om hulle te versien is bekostigbaar, die trekkers se koopprys is baie kompeterend, beter as soortgelyke modelle in die mark en boonop is die naverkopediens van uitstaande gehalte,” sê Eduard.

Pieter sê hulle het tans 8 New Holland-trekkers op die Fair Cape-groep se plase. Die volgende vier T6050’s word in Desember afgelewer en dan is daar 12 New Holland-trekkers. Hulle beplan om later vanjaar na ’n demonstrasie van die nuwe CR New Holland-stropers te kyk, sowel as New Holland se FR650-kuilvoerkapper.

New Holland se moderne reeks stropers is ideaal geskik vir die heuwelagtige terrein en spog onder meer met ‘n outomatiese kantelsifkas wat self die hellings van die landerye bespeur en dan daarby aanpas.

Eduard sê dat hy ook al met die nuwe generasie T8.410 gesaai het en dat dit ’n absolute plesier was. Die skerms in die kajuit maak alles sin, alhoewel dit ’n rukkie vat om gewoond te raak daaraan. Dit is ’n voertuig wat baie verbruikersvriendelik is en toeganklik is vir die plaas se operateurs.

Die aanwend van nuwe tegnologie in die landboubedryf is vir boerderye een van die mees belangrikste aspekte om optimale produksie te bewerkstellig.

AGRIMARK MECHANISATION BIED NODIGE NAVERKOPEDIENS

Volgens Gielie Mocke, senior bestuurder: werkswinkels en onderdele van Agrimark Mechanisation se takke, bied hulle ’n wye verskeidenheid dienste aan. “Ons ten volle toegeruste en New Holland-geakkrediteerde werkswinkels en onderdele-afdelings verseker dat ons kliënte toegang het tot professionele en betroubare diens vir hul masjinerie. Ons glo ons kliënte moet beter daaraan toe wees as gevolg van ons betrokkenheid in meganisasie en die werk wat ons doen.”

“Agrimark Mechanisation bied ’n reeks hoë-gehalte landbou-masjinerie en toerusting aan, insluitend internasionale handelsmerke soos New Holland, TCM, Collard Vitamech-toerusting, Radium, New Holland Construction en vele ander. Die reeks sluit ook verskeie plaaslik vervaardigde handelsmerke soos Erdvark en Piket Implemente in.”

“Ons het ook drie ingenieurwerkswinkels op Vredendal, Porterville en Malmesbury om kliënte by te staan met algemene herstelwerk, vervaardiging van toerusting en die verskaffing van staalprodukte van hoë gehalte. Ons is baie trots op ons naverkopediens en toegeruste werkswinkels en onderdele-afdelings verseker dat ons kliënte toegang het tot ʼn professionele diens en betroubare instandhouding van hul masjinerie. Al ons werkswinkels bied ook ’n velddiens aan met toegeruste voertuie,” vertel Gielie.

Agrimark Mechanisation het 12 bedryfspunte bestaande uit onderdele-afdelings en werkswinkels.

“Die bedryfspunte word bestuur deur ’n dienstebestuurder en die personeel bestaan uit goed opgeleide onderdele-verkoopspersoneel, werktuigkundiges, werkswinkelassistente, asook ’n administrasieklerk,” sê Gielie.

By sommige bedryfspunte word vakleerlinge vir opleiding geplaas.

Agrimark Mechanisation verkoop ook al die onderdele om die toerusting te versien wat aan die heelgoedere-kant te koop aangebied word. Die voorraad onderdele wat aangehou word sluit ook onderdele van ander trekkerhandelsmerke in.

Aan die stroperkant bied hulle byvoorbeeld ’n reeks onderdele aan vir die Claas-, Laverda- en Claysen-stropers. Al die bedryfspunte hou ook ’n reeks algemene items aan om in die daaglikse behoeftes van ’n werkswinkel te voorsien.

Die feit van die saak is dat goeie masjinerie, goeie diens en goeie beplanning produsente sal ondersteun om sukses te behaal ondanks die vele uitdagings van moderne landbouproduksie.