Agriplas
Agriplas, deel van die KAL Group, is een van die grootste vervaardigers en verspreiders van besproeiingstoerusting vir die landboubedryf in Suid-Afrika en is al sedert 1968 een van die voorste verskaffers van veral plastiekbesproeiingstoerusting.
Craig Matthew, uitvoerende hoof van Agriplas, is aan die woord vanuit die maatskappy se hoofkantoor in Brackenfell. Agriplas lewer ’n onontbeerlike diens in die landboubedryf en het in 2002 deel van die KAL Group geword. Filtreerstelsels vir industriële water en die mynbedryf word ook toenemend belangrik in hul waardeketting.
Kringloop van kenners
“Ons werk nie direk met die eindverbruikers nie, maar fokus op handelaars wat kenners met jarelange ondervinding in die besproeiingsbedryf is. Hierdie handelaars verskaf besproeiingsdienste en -produkte aan produsente van ’n verskeidenheid landbougewasse, van tamaties en avokadopere tot appels, pere en sitrusvrugte – eintlik alle tuinbougewasse wat besproeiing benodig. Die transaksies is dan tussen ons en die handelaars, oftewel diensverskaffers, in die besproeiingsbedryf wat ons produkte na die eindverbruiker toe neem,” verduidelik hy.
Volgens Craig verskaf Agriplas al die benodigdhede en, danksy hul ervaring in die bedryf, hanteer die handelaars die res, wat die ontwerp van die besproeiingstelsel, die verkrygingsproses en installering, sowel as die náverkope diens en instandhouding insluit. Agriplas se kundiges is meer betrokke by die outomatisering van stelsels omdat hulle weer die ervaring daarvoor het.
“Ons bedien die hele Suid-Afrika, sowel as die suidelike deel van die Afrika-kontinent, en is in feitlik al die SADEC-lande betrokke by die verskaffing van besproeiingstoerusting van wêreldklasgehalte – van Namibië, Botswana, Mosambiek, Zimbabwe, Kenia en Tanzanië tot in Malawi. In hierdie lande het ons ook deurwinterde diensverskaffers wat ons produkte versprei, die installering doen en die instandhoudingsdiens verskaf. Ons kan op hul tegniese vermoë staatmaak, danksy die sterk verhoudings wat hulle met die produsente in hul streke het,” verduidelik Craig.
Verreikende verspreidingsnetwerk
Agriplas se primêre vervaardigingsaanleg is in die Kaap, maar daar is twee ander verspreidingspunte, een in Nelspruit en een in Centurion, vanwaar die noordelike deel van die land en die res van Suidelike Afrika bedien word. Agriplas verskaf ook produkte aan Agrimark-takke landwyd. As daar groot projekte buite landsgrense geïnstalleer moet word, word die komponente binnelands aanmekaar-gesit en dan na die eindbestemming vervoer waar kontrakteurs die installering hanteer. Besproeiingsontwerpers se instruksies word deurgaans noukeurig gevolg. Die verkryging van die onderdele daarvoor en verspreiding daarvan, is Agriplas se verantwoordelikheid.
Die vervaardiger het tans ongeveer 130 voltydse werkers in diens, insluitend fabriekswerkers, tegniese adviseurs, meganiese en landbou-ingenieurs wat as ’n hegte span funksioneer.
Agriplas se produkreeks dek die hele besproeiingswaardeketting en hulle vervaardig die meeste produkte self.
Die produkreeks sluit die volgende in: poli-etileenpype; plastiese mikrospuite; ’n verskeidenheid druppers wat verskillende hoeveelhede water teen verskillende hoeke deurlaat, party met drukkompenseerders; spreiers in verskeie groottes en vir verskillende toepassings; klapspuite; hangspuite; vloeireguleerders; filters; pompe; kleppe; outomatiseringtoerusting, en toerusting vir die verspreiding en toediening van kunsmis via die besproeiingstelsel. In die meeste gevalle word die produkte doelgemaak volgens die produsent se behoeftes. Agriplas is die leier in die vervaardiging van mikrospuite in Suid-Afrika en is trots op hul reputasie.
Produkontwikkeling van ingevoerde produkte word grootliks deur die verskaffers gedoen, terwyl plaaslik vervaardigde produkte se ontwikkeling danksy hul kundigheid, deur Agriplas self gedoen word. In die seisoen word tussen 80 t en 100 t rou materiaal maandeliks verwerk om produkte te vervaardig.
Allan Roodman, fabrieksbestuurder, verduidelik vir ons hoe die verskillende stelsels in die vervaardigingsaanleg werk en hoe die produkte saamgestel word. “Hier word jaarliks tussen 8 en 11 miljoen mikrospuite met die hand aanmekaargesit deur ’n span van ongeveer 22 mense. In seisoentyd is hier meer as 50 mense en is daar ook ’n nagskof,” sê hy.
Volgens Quinton Kotze, Agriplas se produksiebestuurder, word die meeste werk deur geoutomatiseerde masjiene gedoen wat deur deeglik opgeleide personeel bestuur word. In die vervaardigingsaanleg is daar groot klem op afvalmateriaal en sommige produkte bevat tot 75% herwonne materiaal. Herwonne polimeer word ook vir die vervaardigingsproses aangekoop.
Noukeurige naspeurbaarheid
Die fabriek voldoen aan streng vereistes vir naspeurbaarheid en elke produk word met lasers gemerk met die datum, tyd en die masjien waarop dit vervaardig is om hierdie proses te vergemaklik. Gehaltebeheer vorm natuurlik ook ’n integrale deel van elke produksieproses in die aanleg.
Daar is toenemende klem op outomatiseringstoerusting omdat dit produsente in staat stel om hul waterbronne meer akkuraat te bestuur, ook van ver af. Doeltreffende besproeiingsbestuur moet ’n groot aantal faktore in ag neem, insluitend klimaat en mikroklimaat, grondtipe, watergehalte, die gewasse wat gekweek word, die topografie en die stelsels wat gebruik word. Dit alles help om presiese boerderypraktyke toe te pas om besparing en maksimale opbrengs te verseker.
Elke druppel tel
Volgens Craig word die dienste van agronome gereeld deur handelaars ingespan om die voggehalte van die grond te bepaal en daardeur te help om die regte besproeiingstoerusting te gebruik. Hulle kyk na die geheelbeeld en maak aanbevelings vir water- en kunsmistoediening. Die gepaste toerusting word dan deur Agriplas vervaardig en verskaf.
“Ons het byvoorbeeld ’n verskeidenheid mikrospuite wat van 20 l/uur tot 100 l/uur se water deurlaat, afhangend van die kontrakteurs se aanbevelings. Só kan ons presiese kunsmistoediening met ons produkte skeduleer, terwyl drupperlyne met ʼ’n akkuraatheid van so min as 0,8 l/uur ook vervaardig word. Hierdie toediening word fyn wetenskaplik bepaal en mens kan verstaan dat ’n produsent wat 100 ha onder besproeiing het, dit nie kan bekostig om selfs 5% meer water toe te dien as wat nodig is nie. Ons produkte help daarmee. Omdat landbou een van die regering se fokusareas vir ontwikkeling is, en weens die waterskaarste in die land, speel ons ’n kernrol in die doeltreffende gebruik daarvan deurdat ons die regte produkte aan produsente verskaf. Ons hoofdoel is om voort te gaan om op wateroplossings te fokus en om seker te maak dat wat ons doen, so presies as moontlik is, tot voordeel van die produsente en hul produksieprosesse.”
Pieter Joubert, Agriplas se nasionale verkoopsbestuurder, sê Agriplas se filters vir besproeiing begin by groottes van 20 mm tot en met 12 en 14 duim staalfilters, wat enigiets van 50 l/uur tot 2 000 kubieke l/uur kan filtreer. Die filters self wissel van grof, sowat 800 mikron, tot baie fyn, 20 mikron, afhangend van die toepassing waarvoor dit gebruik word. Hy verduidelik dat dit vir landbouers al hoe meer noodsaaklik geword het om doeltreffende filtreerstelsels te gebruik. Filters speel ’n noodsaaklike rol in die hergebruik van water in sowel die landboubedryf as op industriële vlak.
Akkurate grondvogmeters
“Ons is die enigste produsent ter wêreld wat ’n ‘wetting front detector’ vervaardig, ’n basiese skeduleringhulpmiddel wat grondvoggehalte bepaal en vasstel hoe vinnig vog ná watertoediening versprei. Die instrument sê vir die produsent hoe lank en hoe gereeld hy water moet gee. Ons verkoop duisende daarvan en omdat dit nie elektrisiteit nodig het om te werk nie, en dit so goedkoop en doeltreffend is, is dit ideaal vir kleinboere.”
Agriplas het alreeds begin om industriële filters van verskillende groottes aan die landboubedryf te verskaf, maar ’n toenemende aanvraag uit industriële en mynbougeledere het ’n nuwe ontwikkelingsveld geskep.
Craig word ondersteun deur ’n sterk bestuurspan met baie ervaring in die besproeiingsbedryf. Pieter is al 35 jaar in die bedryf. Die res van die span sluit ook vir Allan in en dan is daar David Sass, die logistieke bestuurder, Chandré Brandt, die finansiële bestuurder, en Johann Verster, die produkbestuurder vir outomatisering.
“Dit is belangrik om te besef dat die produkte en dienste wat ons lewer, deur die stabiele KAL Group ondersteun word, ’n gelyste maatskappy met baie gravitas en sterk finansiële ondersteuning. Dit help ons ook om produsente finansieel by te staan deurdat ons hulle besproeiingsprojekte kan help finansier – selfs al werk hulle deur die handelaars of kontrakteurs wat die beplanning, installering en instandhouding van besproeiingstelsels hanteer. Ons is ’n baie goeie alternatief in die mark en die prysvoordeel wat ons met ons besproeiingsprodukte kan bied, maak ons uiters kompeterend,” glo hy.