Agrimark Stellenbosch

Agrimark Stellenbosch

Mar 8th 2024
Agrimark Services
Danie Keet

“Die winkel se produkaanbod is baie gediversifiseerd om aan ons klante se behoefte te voldoen. Dit kan min of meer gelykop verdeel word tussen kleinhandel en landbou. Stellenbosch is in ’n groot landbougebied geleë met ‘n verskeidenheid produsente. Dit is aan die een kant ‘n uitdaging, maar aan die ander kant ook goed om nie al jou eiers in een mandjie te sit nie.”

Steven Cronjé, bestuurder van Agrimark Stellenbosch in Adam Tas-weg, is aan die woord.


Die winkel bied ‘n wye verskeidenheid verbruikersgoedere. Een produk wat uitstaan, is verf. Klante kan al die bekende handelsname hier vind. Wat die winkel ook besonder gewild by verwers maak – mense wat hul huis wil verf of groot kontrakteurs – is die Jotun-handelsmerk, ‘n gesogde produk omdat dit duursaam is en dit is immers die verf waarmee die Eiffeltoring geverf is.


Die winkel spog ook met drie pakstore wat vir die berging van verskillende produkte gebruik word sodat daar altyd voorraad byderhand is as klante dit benodig. Die stoor in die Woodmill-sentrum word grootliks gebruik om oorvloeivoorraad te berg. Boumateriaal, kunsmis, saad en besproeiingsmateriaal word in die ander store op die perseel langs die winkel gehou.

Die vulstasie langs die agri-stoor, wat klante gedurende normale besigheidsure bedien, is gerieflik, en rekeninghouers kan hier brandstof op rekening aankoop. Agrimark Stellenbosch het sy eie koffiewinkeltjie waar lekkernye, koeldrank en blomme verkoop word. Een van die koffiewinkel (wat net langs die ingang is) se groot trekpleisters, is die tuisgemaakte pasteie, wat volgens “betroubare bronne” die beste op die dorp is.

Sowat 90% van die landbouklante is in die wynbedryf betrokke. Veral wingerdboere maak grootliks op die winkel staat vir byvoorbeeld opleipale en -draad, stutte en ankerpale. Die Alsace-ysterpale wat uit Frankryk ingevoer word, raak al hoe meer gewild omdat produsente dit eerder as houtpale gebruik.

Kunsmis is ‘n ander gewilde produk vir hierdie vertakking van die streek se landbouproduksie. Grootmaat aflewerings op die plase vergemaklik dinge baie. Die aflewering word so gereël dat dit dikwels direk van die verskaffer na die plaas vervoer word. Die winkel se vragmotor het ‘n hyskraan wat daarop gemonteer is sodat op- en aflaai van sulke groot bestellings maklik gedoen kan word. Vloeibare kunsmis is nog ʼ‘n produk wat in hierdie afdeling aangebied word. Dit word direk deur middel van die besproeiingstelsel toegedien.

Ander boerderybedrywighede in die Stellenbosch-streek sluit steenvrugte, vee- en saaiboerdery, bloubessies en talle wynkelders in. Plukkissies, traplere vir plukkers, houers (bins) van verskillende groottes, insluitend Agrimark se eie Tego-houers, tel onder die winkel se produkte sodat produsente al hul landboubenodighede hier op een plek kan vind.

“Ons produkreeks sluit ‘n verskeidenheid draad in vir sowel die opleiwingerde as normale omheining, asook elektriese veiligheidsheinings. Ons hou ook heelwat saad aan – van koring, korog, hawer, lusern en selfs rape en mosterd wat deur produsente gebruik word as wisselbou en grondvoeding in hul wingerde en op landerye.”

Volgens Steven bedien die winkel produsente in ‘n uitgebreide area wat strek van Somerset-Wes, Lynedoch en Polkadraai tot op die Helshoogtepas, Klapmuts en Kuilsrivier. Hy verduidelik dat daar nie eintlik grense is nie en dat die winkel gewoonlik produkte vir klante sal opspoor as hulle nie voorraad daarvan het nie.

Die tuinafdeling is baie gesog onder dorpenaars. Daar is ’n volledige reeks tuingereedskap, snoeiskêre, vurke en ander toerusting, asook ‘n wye verskeidenheid saad – van blomme tot verskillende groentes. Die troeteldierafdeling bied dieremedisyne, speelgoed, hondebeddens en ‘n wye reeks honde- en katkos.


Die afdeling met kraggereedskap sluit elektriese sae, skuur-masjiene, bore en skroewedraaiers in. Die Ingco-handelsnaam is veral gewild omdat dieselfde herlaaibare batterye vir verskillende modelle in die reeks van kragtoerusting gebruik kan word.

Toerusting soos kragopwekkers, gloeilampe en ligte te kies en te keur word in die afdeling vir elektriese ware aangebied, asook al die nodige onderdele om elektrifisering van heinings om eiendomme maklik te maak.

“Ons buitelewe-afdeling is een van die gewildstes in die winkel en, met ‘n volledige geweerkluis, is dit beslis ‘n besoek werd. Verskillende soorte gewere is beskikbaar, vir jag en skyfskiet, handwapens, asook ammunisie en herlaaitoerusting, skietmatte, verkykers en afstandmeters. Boonop het ons ‘n spesialis op dié gebied, Leon Lottering. Hy het jarelange ervaring op die gebied en kan klante met waardevolle raad bystaan,” vertel Steven.

“Die jagseisoen is van Mei tot Julie. Jagters kom maak hulle mandjies vol met allerhande kampbenodighede insluitend hengel-, gas-, braai- en kamptoerusting soos opvoustoele, tafels, tente, gazebos – en moenie vergeet van Agrimark se eie Waypoint-reeks nie,” beduie Steven met entoesiasme.

Sonder ‘n goed opgeleide personeelkorps wat gemotiveerd en diensgerig is, kan geen winkel egter suksesvol wees nie.

“Elke afdeling het ‘n senior met spanne onder hulle. Dieselfde geld ook vir die bedryf van die store waar senior aankopers in beheer is.

Elke personeellid word aan ‘n afdeling toegewys, maar deur middel van die oordrag van vaardigheid, verseker ons dat enigeen in enige afdeling kan werk en vir mekaar kan instaan. Daar is egter altyd ‘n produkspesialis beskikbaar. Almal is baie goed opgelei. Daarby neem ons drie bemarkers die leiding en staan hulle die ander personeel by – Johann Barnard sien om na die landbou, Deon Erasmus beheer die bouafdeling, en Anton Havenga is ons verfspesialis. Ons is almal gefokus op die belangrikheid van verantwoordelikheid en samewerking onder mekaar en teenoor ons klante. Ons werk nie net vir onsself nie, maar ook vir die mense om ons, en elkeen se familie. As ons ons take ernstig opneem en saamwerk, kan ons ‘n positiewe impak hê op ons gemeenskap en ons eie toekoms,” sluit Steven af.

Agrimark Stellenbosch: Adam Tas-weg 7600 | Tel: 021 887 2834 | www.agrimark.co.za