Agrimark Packaging Louis Trichardt

Agrimark Packaging Louis Trichardt

Aug 2nd 2022
News
Danie Keet

Daar is ’n gesegde wat sê jy moet weet uit watter koppie jou klant sy eerste koppie koffie in die oggend drink, want dit is die beste manier om jou verhouding met jou produsente op te bou en te versterk.

“Dis iets wat ek al ‘n paar maal toegepas het,” sê Jaco Cloete, bemarker en waarnemende takbestuurder van Agrimark Packaging Louis Trichardt, oor die manier waarop hy al die afgelope 18 jaar in Limpopo besigheid doen.

‘n Goeie verhouding met klante is die een aspek wat al die ander in ‘n suksesvolle besigheid oorskadu. “Ons is ‘n groot rolspeler in die streek en daarom rus ons nie op ons louere nie. Ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor ons klante om deurgaans die beste diens, teen die beste pryse en op die regte tyd te lewer.”

Die gebied wat bedien word, is groot – dit strek met ‘n radius van omtrent 400 km om Louis Trichardt. Omtrent 18 produsente word voltyds ondersteun en daar behoort binnekort nog ’n sitrusprodusent van Zimbabwe by te kom.

Die personeel buig agteroor om in klante se behoeftes te voorsien omdat klante soveel agting het vir wat Agrimark Packaging vir hulle doen. “Maar ons moet sorg dat alles glad verkoop. Die logistiek oor sulke groot afstande is een van die vernaamste uitdagings, maar ons sal geen moeite ontsien nie. Daarom werk ons naweke en vakansiedae ook as dit nodig is. Selfs al bel iemand vanaand elfuur vir die een of ander dringende produk, sal ons inspring om te help.”

Jaco beskryf ‘n onlangse situasie: “Ons moes inderhaas verpakkingsmateriaal verskaf nadat onluste uitgebreek het en ‘n aanleg se masjinerie vernietig is. Omdat Agrimark Packaging ʼ’n groot netwerk van verskaffers het, was ons in staat om te help. As die vragmotors teen tweeuur of drieuur die oggend op ‘n plaas stop, moes ons byderhand wees om toe te sien dat alles glad verloop en die regte produkte afgelaai word. Daarna moes ons weer voort na die volgende bestemming, dikwels 200 of 300 km verder. Soms het ek net vinnig by die huis ingeval, skoon klere opgetel, die kinders gegroet voor hulle skool toe is en dan weer verder gegaan. Dit was ‘n groot uitdaging, maar tog ook lekker,” vertel hy.

Klante se behoeftes bly die fokus, ongeag hoe moeilik die omstandighede mag wees. Hierdie pligsgetrouheid is by almal wat hier werk, te bespeur, soos Phasa Machethe, ‘n vragmotorbestuurder verantwoordelik vir aflewerings wat daagliks groot afstande aflê. Hy het verlede jaar Kaap Agri se toekenning vir werknemer van die jaar verower. “Phasa is my regterhand. As hy by ‘n produsent is, sal hy oplet watter produkte hulle kort en aanbevelings maak,” vertel Jaco.

Produsente in die omgewing produseer ‘n wye verskeidenheid produkte en hulle kry al hul pakmateriaal by die winkel. Sitrus is die grootste produk in die streek en veral sagtesitrus het die afgelope paar jaar baie veld gewen. Avokadopere, makadamianeute en groente is ook baie gewild. Daar is selfs ‘n produsent wat sowat 850 ha grond in ‘n droër deel van die area met ‘n geharde avokado-kultivar uit Israel aangeplant het. 

Volgens Jaco neem die sitrusbedryf jaarliks met ongeveer 450 tot 600 ha toe. Ou boorde word uitgekap en nuwe kultivars soos Tango en Clement word aangeplant. Katoen is ook ‘n gewas wat al hoe meer aangeplant word en makadamianeute word op enige bruikbare stukkie grond gevestig.

Agrimark Packaging Louis Trichardt verskaf die hele reeks verpakkingsmateriaal vir al hierdie verskillende bedrywe. Die kartonne, die binnekantse pakmateriaal, hoekstukke vir palette, toedraaipapier vir sitrusvrugte – ook papier met handelsmerke daarop gedruk. Die voorraad wat aangehou word, is gebaseer op die produsente se behoeftes. Indien iets nie aangehou word nie, word dit direk by verskaffers bestel.

‘n Groot pluspunt is dat grootmaatbestellings vir produkte soos kunsmis en brandstof via Kaap Agri se finansieringsopsies gedoen kan word.

Die toekoms is rooskleurig met planne om die produkreeks uit te brei om kleinhandelware soos dieremedisyne, vloeibare kunsmis en chemiese produkte aan te bied, asook alles wat nodig is vir die oprigting van skadunette. Kennis van jou klante se behoeftes en goeie diens is voorwaar hulle voorland.

Agrimark Packaging Louis Trichardt
Unikastraat 1, Louis Trichardt, 0920
Tel: 015 516 5013