Agrimark Malmesbury verstaan die behoeftes van hulle streek

Agrimark Malmesbury verstaan die behoeftes van hulle streek

Sep 14th 2022
Agrimark Services
Deur Danie Keet | Fotografie: Michel Dei-Cont & Mia Truter

Die winkel is in die bekwame hande van Jacques Schade, die ervare takbestuurder wat al meer as 20 jaar by die maatskappy werk.

“Hier is ’n groot verskeidenheid produsente in ons streek, maar die groot fokus is natuurlik op graanboerdery met produsente wat koring, kanola, hawer en ander voergewasse saai en oes. Daar is egter ook ander landboubedrywe vir wie ons voorsiening moet maak, soos wyn- en tafeldruiwe, groente-, skaap-, bees- en perdeboere sowel as suiwel en mielies,” vertel Jacques in sy kantoor in die hartjie van Malmesbury.

Omdat hy al meer as twee dekades in die streek is, ken hy die produsente en hul behoeftes deeglik. “Ons is hier om diens aan ons klante te lewer en ons is getrou aan Agrimark se leuse dat ons teenwoordigheid die lewens van ons klante positief moet beïnvloed. Dis iets wat ons daagliks hier uitleef.”

Maar die winkel bedien ook die breër gemeenskap en is ’n gewilde stilhouplek vir besoekers. Daar is twee vlakke met ‘n kampeer- en buitelewe-afdeling op die boonste vlak. Hier is alles wat ’n mens vir ’n lekker naweek se kamp nodig het – van gaslampe en braaitoerusting tot tente, slaapsakke, kampbedjies, hengelgerei, potte vir potjiekos, waterkanne, gasstowe en braais.

Die bou-afdeling is omvattend en bied ’n reeks produkte vir belangrike boubedrywighede wat deur sowel dorpenaars as produsente benodig mag word. Danksy ’n sterk bemarker, Peter Reid, groei hierdie afdeling steeds, wat ’n groot aanwins op die dorp is.

Houtdeure vir binne en buite die huis, aluminiumvensterrame en skuifdeure, krane en ander loodgietersprodukte maak deel van hierdie afdeling uit. En dan natuurlik ook bousand, stene, sement en draadversterkingsmateriaal.

“Ons hou ’n groot voorraad materiaal vir die skep van infrastruktuur aan – pale, verskillende soorte draad vir omheining, plastiekpype en ander produkte wat spesifiek gemik is op die streek se spesifieke boerderybedrywighede. Hieronder tel items soos baaltou, voer en troeteldierbenodigdhede,” sê Jacques.

Vir die selfmaak-entoesias is daar genoeg gereedskap – van elektriese sae en skaafmasjiene tot skroewedraaiers, moersleutels, tange en al wat ‘n spyker en skroef is. Daar is ook ‘n uitgebreide reeks produkte vir motorherstel- en instandhoudingswerk.

“Ons klereafdeling is net so belangrik en veral die Jonsson-reeks is baie gewild. Hierdie klere is ontwerp om as werksklere op die plaas te dien en dit is geskik vir alledaagse drag. Ons probeer voortdurend diversifiseer om in almal se behoeftes te voorsien,” beduie Jacques.

Die groot stoor is direk langs die winkel en dis waar die grootmaat kunsmis, ’n verskeidenheid dierevoer en lekblokke en boumateriaal geberg word. Dis onderdak en toeganklik vir voertuie sodat klante nie slegte weer hoef te trotseer om op te laai nie. Hier staan altyd ’n span gereed om hand by te sit met produkkeuses sowel as die op- en aflaai van goedere. Daar is ook ’n afleweringsdiens beskikbaar.

Omdat daar vulstasies naby is, het hulle nie hul eie rybaan nie, maar die winkel verskaf en finansier steeds grootmaat brandstof aan produsente. Dieselfde geld vir kunsmis en chemikalieë en ander spuitmiddels en produkte.

By Agrimark Malmesbury is personeel van groot belang en ’n hele paar het al lang dienstermyne. Dit verhoog nie alleen die gevoel van kameraderie nie, maar verseker ook dat klante vertrouensverhoudings met die personeel opbou en hulle gemaklik kan nader wanneer hulle iets wil koop.

Veronica Wium, die senior verkoopsklerk, is al 40 jaar by die maatskappy en het ’n uitstekende verhouding met klante opgebou. Andre Botes, die landboubemarker met 22 jaar diens, beskik oor onskatbare produkkennis wat hy inspan om die produsente te bedien. Corne Fouché, die administrasieklerk, is ook al 25 jaar hier. Annelie de Beer, die bekwame junior bestuurder, het ook reeds 20 jaar diens en sy lewer ’n groot bydrae tot die dag-tot-dag bestuur van die winkel.

Hier in die Swartland lewer Agrimark Malmesbury ’n waardevolle diens en hulle vorm ’n integrale deel van die gemeenskap.

Jonathan Syster is die dienstebestuurder van Agrimark Mechanisation Malmesbury en hy sien om na die Onderdele-afdeling en Werkswinkel.

“Ons moet verseker dat klante professionele diens vir die instandhouding van hul toerusting kry. Daarvoor is hier 8 personeel-lede wat hooggekwalifiseerde werktuigkundiges insluit. Omdat ons ’n gemagtigde handelaar vir hulle is, is New Holland vir ons ’n belangrike handelsmerk. Ons bied ’n wye reeks van hulle produkte aan en ons sorg dat die masjiene betyds en volgens riglyne versien en in stand gehou word. Alle toerusting word eers deur ’n streng voorafleweringsdiens nagegaan alvorens dit oorhandig word.”

Jonathan meen dat daar nie sukses in die waardeketting kan wees sonder goeie en doeltreffende naverkopediens nie. Vir produsente is diens baie belangrik en dit is feitlik ’n voorvereiste vir suksesvolle verkope.

Morné Milstein, bemarker by Agrimark Mechanisation, sê dit is belangrik dat die regte toerusting aan produsente bemark word. Dit is hulle doel om aan produsente se behoeftes te voorsien en daarom word die beplanning vir toekomstige behoeftes saam met hulle gedoen.

Agrimark Mechanisation op Malmesbury het ’n hele reeks New Holland-trekkers, hul topverkopers. Die verskeidenheid is veral nodig vir die saaiprodusente omdat die terrein soveel van plek tot plek kan verskil. ’n Saaiboer kyk veral na die gewig van ’n trekker en die perdekrag wat hy lewer om seker te maak dit sal sterk genoeg wees om implemente oor veral skuins hellings te sleep. Vir ’n produsent is die gewig baie belangrik, want hoe swaarder die trekker is, hoe beter sal dit op skuinstes vaar.

“Een van die vernaamste kenmerke en voordele van ons New Holland-stropers, is die kantel-sifkas wat van die graanpan tot by die agterste siwwe strek. Dit word outomaties gereguleer deur ’n pendulum wat onder die kajuit gemonteer is, en as die stroper skuins begin oorhel, kantel die sifkas outomaties in die teenoorgestelde rigting. Hierdie proses is ten volle gerekenariseer. Dit word slegs een maal gekalibreer. Die Dynamic Feed Roll-funksie is ‘n nuwe opsie wat beskikbaar is vir die rotor-stropers en dit bied tot soveel as 10% meer kapasiteit,” sê Morné.

Morné vertel dat hy in die Swartland grootgeword het en ook op ‘n plaas gewerk het. Dit gee hom ‘n voordeel omdat hy nie net die gesaaides goed leer ken het nie, maar ook ander fasette van die produsente se aktiwiteite verstaan.

Die vennootskap tussen Agrimark en sy klante hou duidelik ‘n voordeel vir alle betrokkenes in.

Agrimark Malmesbury: Voortrekkerstraat 65, Malmesbury, 7300 | Tel: 022 482 8000

Agrimark Mechanisation Malmesbury: Tuinstraat, Malmesbury, 7300 | Tel: 022 482 8101