Agrimark Darling

Agrimark Darling

Mar 18th 2024
Agrimark Services
Danie Keet

Agrimark Darling is ’n baken in die klein gemeenskap van hierdie Swartlandse dorp neffens die Weskus. Die winkel bedien ’n wye reeks klante met noodsaaklike produkte vir die landbousektor sowel as kleinhandelprodukte vir die dorpsgemeenskap.

’n Mens moet versigtig wees om na Darling as ’n klein dorpie te verwys. Dit is baie bedrywig en ’n verskeidenheid uiteenlopende landboubedrywe word in die omgewing aangetref. Landbou-aktiwiteite in die streek strek van beesboerdery, wyn- en skaapproduksie, tot saaigewasse en melkerye.


Die melkbedryf is een van die grootste werkverskaffers en daar is vyf groot melkerye in die streek. Daar is ’n hele paar bekende wynplase waaronder, natuurlik, Darling-wynkelder en Groote Post. Kleinerige olyfprodusente lok ook heelwat besoekers na die gebied, terwyl die dorp en sy direkte omgewing ook bekend is vir die asemrowende blomme wat in die blomtyd hier te sien is. Die Darling-veldblomskou is nog ’n geleentheid wat sorg dat duisende mense die dorp besoek.


Anthony Snyman is die bestuurder van Agrimark Darling en hy het reeds 12 jaar ervaring in die bedryf.

Met die intrapslag tref die winkel se netjiese voorkoms ’n mens en voel jy sommer welkom met al die vriendelike gesigte rondom jou wat ieder en elk gemaklik groet.


“Ek wil hê ons personeel moet persoonlike kontak met ons klante bewerkstellig sodat klante tuis voel as hulle hier inkom. Persoonlike en professionele diens is wat ons bied. Dis juis daarom dat ek weekliks aan ’n spanlid die geleentheid gee om ander kollegas op te lei oor van die produkte wat in sy of haar afdeling verkoop word. Verlede week het Cindy Barends, wat die tuinafdeling behartig, vir ons meer vertel van die produkte wat daar gewild is en vandeesweek het Waiden Samuels ons meer geleer oor die Ingco-kraggereedskap, ’n relatiewe nuwe reeks toebehore. So bemagtig ons elke personeellid met produkkennis en selfvertroue om klante te help, al is dit nie in die afdeling waarin hulle eintlik werk nie.”


Anthony glo hul diens aan die landbousektor is van kardinale belang en daarom probeer die tak om die regte voorraad vir klante se behoeftes aan te hou.


“Omdat die melkerye so ’n groot deel van ons omgewing se landboubedrywighede uitmaak, hou ons insette en produkte aan wat hierdie produsente mag nodig kry, soos voer, beeslek, veemedisyne en dies meer. Ons veevoerafdeling is omvangryk en buiten ons voorraad in die winkel, lewer ons ook direk in grootmaat af. Molasse is in groot aanvraag, veral vir produsente wat hul eie kuilvoer maak. Baie produsente meng hul eie voer en ons tree proaktief op deur hierdie produkte te verskaf en ons staan die produsente in hul aankoopbeplanning by. Jy moet altyd gereed wees as ’n produsent skielik voer nodig het en jy kan nie dan rondval nie,” sê hy.


In die vorige winkels waar hy werksaam was, het kleinhandel ’n groot rol in hul verkope gespeel. Op Darling is die landbousektor tans egter hul grootste fokus en die span is daarop ingestel om hierdie sektor ten beste te bedien.

“’n Mens leer gou verstaan wat die behoeftes van ons klante is. Ek het reeds met die groot kunsmishandelaars kontak gemaak om te hoor wat die uitslae van hul grondontledings en voorspellings vir die komende plantseisoen is sodat ons vroegtydig die spesifieke kunsmisbehoeftes kan bepaal. So kan ek dan begin onderhandel sodat ons die beste pryse vir ons produsente kan aanbied en verseker ons dat ons genoeg voorraad het as die saaiery begin. Kunsmispryse het darem ’n bietjie gestabiliseer ná die kwaai verhogings van die afgelope paar jaar, maar ons moet altyd proaktief optree.”

Die winkel hou ’n verskeidenheid boumateriaal in voorraad en bedien baie klante van Yzerfontein, ongeveer 30 km wes van Darling. Daar is baie nuwe bouprojekte aan die gang en aflewerings van bousand, stene en sement word gereeld by die ontwikkelingsprojekte gedoen. In die stoor langs die winkel is daar ’n verskeidenheid houtdeure en -rame, aluminiumvensters, versterkingsdraad vir bouwerk en ander boumateriaal. Anthony beplan om binnekort ’n spesiale boumateriaal-bemarker vir die afdeling aan te stel om vir hierdie sektor te sorg.


Die winkel voorsien ook in die behoeftes van viervoetige vriende en hulle het ʼ’n groot verskeidenheid honde- en katkos, medisyne, speelgoed en versnaperinge vir troeteldiere.

Die winkel is veral trots op sy rybaan net voor die gebou waar diesel teen uiters mededingende pryse aangebied word. “Met die brandstofpryse wat op en af gaan en die koringpryse wat nie altyd aan die verwagtinge voldoen nie, kan ons darem hierdie voordeel aan klante verskaf,” meen Anthony.


Die tuinbou-afdeling met sy Garden Zone-kwekery is nog ’n nuutjie by die winkel. Plante, saad, kunsmis, kompos en tuingereedskap word hier aangebied, tesame met ander tuinmaakbenodigdhede.


Die winkel huisves ook ’n hele reeks huishoudelike produkte. Die motoronderdeelafdeling bied alles aan vir diegene wat self hulle motors in stand hou. Die afdelings vir loodgietery, elektriese goedere en klere maak seker dat daar in die meeste van hul klante se daaglikse behoeftes voorsien word.

Die verfafdeling is uitgebreid en daar word beplan om die mengkamer ook te moderniseer. ’n Nuwe verfmenger is reeds hiervoor aangeskaf sodat klante die kleur van hul keuse kan kry.


Die Darling-span sien vir baie kans en hulle is slaggereed om goeie diens aan die omgewing se landbousektor te lewer. Hulle erken dat ’n uitdagende jaar voorlê, maar hulle is vol vertroue dat die regte aanslag help om klantetevredenheid te verseker en so sal hulle daardie uitdagings suksesvol die hoof bied.

Agrimark Darling: Kerkstraat 4, 7345 | Tel: 022 492 2306 | www.agrimark.co.za